Deense wetenskaplikes voer aan as jy swak eetgewoontes ’n jaar lank laat staan, kan dit lei tot langdurige chemiese veranderinge in jou liggaam wat dit moeiliker sal maak om gewig aan te sit nadat jy ophou verslank het.

Kenners het 20 vetsugtige mense 12 maande lank ’n streng dieet laat volg. Daarna het hulle opgelet die deelnemers skei meer van die hormoon af wat die eetlus ná ete onderdruk.

Lees ook: Hoe ’n jong ma wat ‘te vet was om te loop’ 45 kg afgeskud het

Hulle het dus langer versadig gevoel en kon hul nuwe gewig behou. “Dis baie moeilik om die honger te bestry,” het Signe Sorensen Torekov van die Universiteit van Kopenhagen volgens The Times gesê.

“Dis soos ’n dwelm waarteen jy baklei. Deesdae is soveel kos beskikbaar, ’n mens kan heeltyd eet. Ons kon wys ’n mens moenie tou opgooi nie. As jy jou gewig ’n jaar lank in toom kan hou, vind ’n verandering plaas en word dit makliker.”

Plaaslike kenners beaam hierdie bevinding. “Kitsoplossings is selde op langtermyn suksesvol of volhoubaar,” se Mariza van Zyl, ’n kliniese dieetkundige van Kaapstad.

“My raad aan pasiënte, veral dié wat hul lewe lank al met hul gewig sukkel, was nog altyd: Dit is dikwels die een wat die langste volhou, nie noodwendig die een wat die vinnigste wegspring nie, wat die wenstreep haal.”

Mariza sê verder gewigsverlies is net een van die veranderinge wat in die liggaam plaasvind namate iemand hul leefstyl aanpas. “Ander aanpassings, soos chemiese veranderinge wat nodig is vir ’n gesonder liggaam, neem altyd langer.”

In die ander onlangse ondersoek het oorgewig en maer vrywilligers soortgelyke keuses gemaak toe kosfoto’s aan hulle gewys is. Maar toe hulle onbeperk kon weglê aan buffet, was die oorgewig groep meer geneig om kalorieryke, ongesonde items te kies.

Lees ook: Haal só die stres uit verslanking

“Daar is ’n duidelike verskil tussen hipotetiese koskeuses wat oorgewig mense maak en die kos wat hulle werklik eet,” sê dr. Nenad Medic, hoofnavorser van die Cambridge-universiteit.

“Al weet hulle party kos is ongesonder en sê hulle hulle sal dit nie noodwendig kies nie, is dit ’n ander saak wanneer hulle voor die kos te staan kom.”

Mariza sê verder gene speel ook ’n rol wat gewigsake betref. “Sommige mense gaan altyd moeiliker gewig verloor en die gewig wat hulle verloor het, weer makliker aansit. As jy so ’n genetiese profiel het, gaan jy selfs ná ’n jaar van moeite doen moontlik nog harder moet werk aan slank bly as iemand wat minder vatbaar is vir gewigstoename.”

Lees ook op Huisgenoot.com:

Banters let op! ‘Algemene wanopvattings oor eetplanne met min koolhidrate’

Hierdie vrae meen kenners kan jou help om jou ware self te vind

Klop só lag-lag jou hoofpyn

Vroue praat liewer met vriende oor sekslewe as met hul lewensmaat