Die enigste geluid is die gesuis van waterverkoeler op die agtergrond – en jou aanhoudende, slymerige hoes. Jy probeer elke dan en wan ’n hoes onderdruk sodat jy nie op jou kollegas se senuwees werk nie.

Nie net voel jy ongemaklik nie; jy is ook effens geïrriteerd. Hoe kan jy die ellende van ’n nare, nat hoes laat wyk?
Die goeie nuus is dat jy iets kan doen om vinniger te herstel van ’n loperige of verstopte neus en/of ’n hoes. Die eerste stap is om jou simptome te verstaan. 

Simptome: Hoekom hoes ek? 

Hoes is ’n beskermende refleks wat vreemde partikels, irritante, vloeistowwe en kieme uit die lugweg help verwyder.
Jy kan om verskillende redes hoes, en dit gaan ook bepaal hoe jy dit moet behandel. 

Foto: Pexels.com

Nat of droog?

Hoes kan onder meer geklassifiseer word volgens soort en duurte. 

Is dit byvoorbeeld ’n nat of droë hoes? ’n Droë of sogenaamde nieproduktiewe hoes is wanneer geen slym geproduseer word nie. 

Dis dikwels die gevolg van inflammasie of irritasie van die lugweg, en die algemene oorsake daarvan sluit in ’n virus, besoedeling, allergieë of asma. 

’n Droë hoes is nie altyd skadeloos nie. As dit langer as drie weke voortduur, moet jy dokter toe gaan. 

’n Nat of sogenaamde produktiewe hoes ontstaan weens ekstra slymproduksie in die neusgange, lugweg of longe. 

Dit ontstaan meestal weens ’n virus of bakterie wat ’n sinusinfeksie, brongitis of longontsteking tot gevolg het. 

’n Hoes kan knaend wees by toestande soos chroniese brongitis en brongiëktase, waar daar ’n onderliggende abnormaliteit in die longe of lugweg is. 

Hoe kan ek die simptome verlig?

Eenvoudige maatreëls kan ’n mate van verligting bied. Wend jou byvoorbeeld tot ’n koelmisbevogtiger, soutoplossing-neusdruppels of nasale suiging (babas) en drink baie vloeistowwe om goed gehidreer te bly. 

As dit nie help nie, moet jy by ’n apteek hulp vra. 

Soorte medisyne

Daar is basies vier hoofsoorte. Dit sluit in onderdrukkers, wat die liggaam se hoesdrang demp. Die aktiewe bestanddele kan middels insluit soos kodeïen, folkodien en dekstrometorfan, wat die hoesrefleks teenwerk.

Daar is min bewyse dat onderdrukkers werk en die newe-effekte kan wissel van duiseligheid, lomerigheid en hoofpyn tot naarheid en hardlywigheid. Boonop kan dit nadelig wees om ’n slymerige hoes te onderdruk.

Ekspektorante help jou om die slym makliker uit te hoes. Dit kan guaifenesin, ammoniumchloried, natriumsitraat of ipekakuana bevat, maar die doeltreffendheid hiervan is nog nie onomwonde bewys nie. 

Stilmiddels, wat bestanddele soos heuning en suurlemoen bevat, kan strelend wees, maar daar is geen bewyse dat dit wel werk nie. 

Mukolitiese middels verdun die slym sodat dit makliker uit die longe, lugweë of sinusse kan beweeg. Die aktiewe bestanddeel hierin is N-asetielsisteïen of broomheksien.

Daar is bewys N-asetielsisteïen verminder hoes by kinders ouer as twee. Boonop help dit onmiddellik, want dit maak die loperiger slym help dat die lugweg en neusgange gouer oopgaan.

Hierdie medisyne is onder meer in bruistabletvorm te kry. Dis maklik om in te neem en doeltreffend.

Die meeste hoesstrope is oor die toonbank te koop en sluit aanwysings in oor hoe kinders dit moet inneem.

Gaan egter dokter toe as die simptome langer as drie weke aanhou of as jy kortasem is, borspyn het, bloed hoes of ander kommerwekkende simptome het, soos gewigsverlies, ’n verandering in jou stem op knoppe in jou nek. 

As jy aan ’n chroniese kwaal soos diabetes, hoë bloeddruk of hartsiektes ly, moet jy ook met jou dokter of apteker praat voor jy nie voorskrifmedisyne neem.