Baie vroue het nog altyd ’n haarlose lyf verkies en meer mans kry ook nou wasbehandelings, skeer of laat hare uitpluk.

Maar nou is daar diegene wat ’n hariger voorkoms verkies, soos die Wrecking Ball-sangeres Miley Cyrus, wat onlangs ’n foto van haar harige kieliebakke gedeel het. En dit lyk of die 22-jarige sangeres op die regte spoor is, want dis blykbaar goed vir jou om die natuur sy gang te laat gaan. “Elke haarfollikel (die klein struktuur waaruit hare groei) vervaardig nie net ’n haarvesel nie, maar het ook ’n hele spul bloedvate, senuwees en vet wat dit omring,” sê Des Tobin, ’n professor in selbiologie aan die Universiteit van Bradford aan MailOnline.

Haarfollikels is ook ryk aan stamselle – selle wat nooit die vermoë verloor om hulself te hernu nie – wat die vel help genees.

Haarfollikels is ook ryk aan stamselle – selle wat nooit die vermoë verloor om hulself te hernu nie – wat die vel help genees. Die goeie nuus is dat wasbehandelings of skeer nie dié voordele laat verminder nie omdat die follikels ongeskonde bly.

Lyfhare het in die verlede ook beskerming teen die son gebied, en hoewel ons nie naastenby so harig soos ons prehistoriese voorsate is nie, word daar geglo dat hariger mense ’n ekstra lagie sonbeskerming het. Lyfhare hou ons ook warm – daar is in studies bevind ’n bleskop verloor meer hitte as iemand met ’n welige haredos.

Harige neusgate is ’n kleiner maar nie minder onooglike kwessie vir sommige mense nie. Maar George Murty, ’n oor-, neus- en keelkonsultant by die Universiteitshospitale van Leicester beveel aan dat mense dié hare knip pleks van pluk.

“Wanneer jy pluk, trek jy die wortel uit en dit laat ’n gaatjie in die vel wat ’n potensiële bron van ontsteking kan word; daarom moet jy dit dalk vermy om te pluk as daar baie infeksies in omloop is,” sê hy. Neushare verhoed dat stof in die neus en in die longe gaan; daarom moet jy dit goed versorg.

En dan is daar die hare waarvan baie van ons ontslae wil raak – skaamhare. Baie mans en vroue verkies geen hare daar nie, maar dit dien ’n doel. “Selfs die fynste haarbedekking op die lyf bied ’n buffer teen wrywing,” sê Des. “Party mense wat onder hul arms skeer, vind dit ongemaklik om hul arms teen die kant van hul lyf te beweeg.”

Herhaalde haarverwydering daar, met watter metode ook al, kan soms lei tot ’n geringe ontsteking genaamd follikulitis – dis wanneer ontwrigting van die haarfollikel kan veroorsaak dat bakterieë die haarwortel binnedring. Daarom is dit dalk tyd om die natuur sy gang te laat gaan.

© Cover Media