En terwyl almal weet dit sal min help as jy ’n hele plak sjokolade verorber, is daar nou glo sommige kosse wat werklik gebroke harte kan heel en angs kan hokslaan.

Die Franse sjef Joël Robuchon, wat die meeste Michelin-sterre ter wêreld het, en die neuro-farmakoloog en akupunkturis dr. Nadia Volf het die boek Food & Life geskryf. Dit bevat resepte met gepaardgaande emosionele en liggaamlike voordele.

“Ek sien so baie vroue wat hulle ná die einde van ’n verhouding troos met roomys, maar dit werk nie. Hulle sit gewig aan en voel nie beter nie.

“Die beste raad vir ’n gebroke hart is kalkoen, want dit bevat die aminosuur triptofaan, wat die basis van die hormoon serotonien is. Maar vroue weet dit nie,” het Nadia aan die New York Times gesê.

Steek daar dus waarheid in? Kan maer pluimvee regtig stof in die oë van ’n groot bak roomys skop? Ons kyk hier na ’n paar kosse wat jou bui kan verbeter.

Bestry angs en hartseer

Die einde van ’n verhouding is die grootste rede hoekom mense hulle tot trooskos wend. Wat kan jou beter laat voel terwyl jy The Notebook kyk? Food & Life stel voor jy lê weg aan radyse, rape, wortels, klein, witboontjies, forel, karp en seebaars. As jy lus het vir vrugte, kan jy lemoene of pere eet. Jy kan ook knibbel aan amandels en dennepitte.

Beveg woede

Het ’n uitval met vriende jou siedend gelaat? Of irriteer jou baas jou grensloos? Bly weg van die kitskos en eet liewer seekos. Oesters, mossels, weekdiere en kammossels help almal blykbaar vir wanneer jy kwaad is. Eet dit saam met soet rys, vinkel en seldery en geniet dan ’n nagereg met hasel- en pekanneute of klapper. Ander keuses is ook eierwit, ansjovis en sonneblomsaad.

Oorkom pyn

Dit is nie net emosionele pyn wat ons na die trooskos laat gryp nie; die winterkoue of ’n stryd met menstruele krampe kan jou ook na swaar etes laat smag. Groente met ’n sterk geur is dalk die oplossing; dink aan knoffel en uie. Aromatiese kruie, soos pietersielie en grasuie, is ook ’n goeie keuse, asook pruime en kersies.

© Cover Media