Volgens vorige studies help dit jou brein om feite en gebeurtenisse te onthou as jy vroeg bed toe gaan, maar wetenskaplikes het nou hierdie teorie verder gevoer in ’n meningsartikel in Neuroscience, as deel van ’n kwessie rakende neuro-immunologie.

Hulle beweer diep slaap omskep nie net nuwe gebeurtenisse in langtermyngeheue nie, dit help ook jou immuniteitstelsel om inligting te behou rakende patogene wat dit voorheen teëgekom het.

Kortliks: die immuniteitstelsel onthou bakterieë en virusse wat dit tevore die hoof moes bied, dit versamel fragmente en vervaardig in die proses T-selle wat verband hou met die geheue. Hierdie selle hou maande of jare lank en dit help die liggaam om vinnig op bekende bedreigings te reageer.

“Dit is lank reeds in die sielkundige veld bekend dat slaap die vorming van die langtermyngeheue steun. Die idee dat die vorming van langtermyngeheue ’n funksie is van slaap, wat doeltreffendheid in alle organismiese stelsels verbeter, is egter heeltemal nuut,” het die hoofskrywer, Jan Born van die universiteit van Tübingen in Duitsland, gesê. “Ons beskou ons benadering tot ’n saambindende konsep van die vorming van biologiese langtermyngeheue, waarin slaap ’n uiters belangrike rol speel, as ’n nuwe ontwikkeling ten opsigte van navorsing oor slaap en geheue.”

Die T-selle hier bo genoem, behou “kerninligting” wat die liggaam sal help om bakterieë en virusse op te spoor wat soortgelyk is aan dié wat hy voorheen teëgekom het.

In studies is bewys daar is ’n verhoging in T-selle wat verband hou met die geheue wanneer ’n mens in ’n diep slaap gaan ná ’n inenting. As jy dus sleg slaap, kan dit werklik jou immuniteitstelsel beïnvloed.

“As ons nie geslaap het nie, kan die immuniteitstelsel moontlik op die verkeerde dele van die patogeen konsentreer,” het Born voortgegaan. “Byvoorbeeld: baie soorte virusse kan maklik sommige dele van hul proteïen verander om aan immuniteitsresponse te ontsnap. As daar te min selle beskikbaar is wat antigene herken (die selle wat die fragmente aan T-selle gee), sou almal gebruik moes word om die patogeen af te weer. Daar is boonop bewyse dat hormone wat vrygestel word wanneer jy slaap, die kruisgesprek tussen antigeengewende en antigeenherkennende selle bevoordeel en sommige van hierdie belangrike hormone sou ontbreek het by gebrek aan slaap.”

Meer navorsing sal wetenskaplikes hopelik help om die neurologiese en immunologiese geheue beter te verstaan en dit te vergelyk. Dit kan hulle ook help om entstowwe teen MIV, malaria en tuberkulose te ontwikkel.

© Cover Media