’n Migraine sal dikwels veroorsaak dat jy net in ’n donker vertrek wil lê, wat beteken jy sal van die werk af moet wegbly of sosiale afsprake kanselleer. Gelukkig is daar ’n paar veranderinge wat jy kan maak wat dié kopsere kan keer.

 Gee jou liggaam brandstof

Een van die oorsake van ’n migraine is ’n drastiese verlaging in die bloedsuikervlak. Die doeltreffendste oplossing is om gereeld te peusel. Moenie bekommerd wees as jy dieet nie; jy kan gesond peusel. Neute en sade is wonderlik vir energie; so ook wortel-, seldery- en komkommerstokkies saam met kersietamaties. Jy kan laevetjogurt met vrugte kies as jy ’n suikertand het.

Navorsers het ook bevind vitamien B2 en magnesium kan migraines ook help keer. ’n Mens kry vitamien B2 in boontjies, neute en volgraan, soos bruinrys. Jy kan ’n aanvulling oorweeg as jy nie genoeg daarvan in jou dieet kry nie. Die kruie moederkruid en butterbur en die koënsiem Q10 kan ook help.

 Oefen

Kardiovaskulêre oefening is wonderlik vir migraine-lyers. In ’n onlangse studie is bevind mense wat drie keer per week binnenshuis fietsry ná drie maande, het minder pynlike migraines gekry. Daar is ook ander moontlikhede, soos om te gaan draf, buite fiets te ry of te dans. Begin stadig as jy nie aan oefen gewoond is nie; strawwe oefening kan in werklikheid ’n migraine veroorsaak.

Bestuur stres

Spanning is ’n hoofoorsaak van migraines, maar dalk nie hoe jy dink nie. Die streshormoon kortisol verdof pyn; dus kan ’n migraine ná ’n tydperk van intense spanning toeslaan. Ruim tyd in om te ontspan en jou stres te bestuur.

Daar is ook ’n lekker manier om dit te doen – meer seks! In ’n Duitse studie is bevind ’n bietjie pret tussen die lakens, veral met ’n orgasme, het migraine-simptome help verlig en stresvlakke verlaag. Dit is dalk te danke aan die vrystelling van endorfiene.

Kyk na jou voorbehoedmiddel

As jy op die Pil of enige ander soort voorbehoedmiddel is, moet jy dalk jou dokter gaan spreek. Party middels veroorsaak hormonale skommelinge wat ’n skeelhoofpyn veroorsaak; bespreek dus of ’n ander opsie dalk meer gepas vir jou is.

© Cover Media