Suid-Afrikaanse statistiek wys dat bykans 20% voorskoolse kinders oorgewig of vetsugtig is. Internasionale navorsing toon dat sowat 40% van oorgewig kinders oorgewig tieners sal word, en dat sowat 80% van dié oorgewig tieners, oorgewig volwassenes word. Dit is ook welbekend dat oorgewig en vetsugtige kinders het ’n veel groter risiko het om tipe 2 diabetes, asma en been-en-gewrigsprobleme te ontwikkel.

Ons blogger oor dieetsake, Liezel Engelbrecht, het gaan uitvind hoe ons ons kinders sover kan kry om gesonder te eet. 

Hoe gemaak dat jou kind gesond eet?

Voor ek verder skryf, wil ek net verklaar dat ek self geen kinders het nie, en dus nie noodwendig die omvang en implikasies van al die raad wat gaan volg, heeltemal kan begryp nie.

Cornelia Owens, die kenner met wie ek gepraat het, is egter besig om ’n kleuter van haar eie groot te maak. Cornelia is ’n geregistreerde dieetkundige wat spesialieer in kindervoeding. Sy werk in haar privaat praktyk sowel as by Mediclinic Cape Gate. Maar of ek nou kinders het of nie, dit bly vir my ’n belangrike onderwerp omdat dit so ’n groot invloed het op optimale verstandelike en fisieke ontwikkeling, selfbeeld, algehele gesondheid en langtermyn-gehalte van lewe. Ek glo as kinders net ’n paar goeie gewoontes van jongs af kan aanleer, dit ’n rimpeleffek op hul grootmenslewe en ook hul nageslagte se nageslag kan hê. Cornelia het ’n paar vrae oor kinders en eetgewoontes beantwoord:

Sommige kinders het omtrent geen eetlus nie, en sommige is weer heeltyd honger. Is dit normaal?

“Kinders het gaan deur tye van vinniger en stadiger groei. Dit beteken dat jou kind soms meer kos sal nodig hê as ander kere. As ouer moet jy probeer agterkom wanneer jou kind werklik honger is. Dit maak dit vir jou makliker om agter te kom wanneer jou kind jou met kos probeer manipuleer. Om te voorkom dat jou kind heeltyd peusel, is dit ook belangrik om geskeduleerde tye vir etes en tussenhappies te hê. Moenie jou kind om die bos probeer lei sodat hy of sy meer eet nie. As jy werklik bekommerd is oor jou kind se eetpatrone, kan jy ’n dieetkundige gaan sien.”

Baie ouers gebruik lekkergoed as ’n klein bederfie wanneer ’n kind soet was. Is dit gepas?

"’n Beloningsisteem is gewoonlik nie gepas vir ’n baie jong kind nie. Hulle is nog te jonk om te verstaan wat jy probeer bereik en sal ongelukkig net begin om die regte ding te doen omdat hulle ’n belonging (lekkerny) wil kry. "Deur kos as ’n beloning óf ’n straf te gebruik, leer kinders om kos met emosies te assosieer, eerder as met die gevoel van honger. Dit leer dus kinders om om emosionele redes te eet, wat later daartoe kan lei dat hulle eet selfs al is hulle nie honger nie, wat natuurlik groter nagevolge kan hê later in hul lewe."

Is bygevoegde suiker en sout sleg vir jou kleuter?

“Dis belangrik dat jou kind ’n smaak vir gesonde kos ontwikkel. Deur sout en suiker by hulle kos te voeg, raak hulle gou gewoond aan dié eenvoudige smake wat dit dan moeiliker maak om meer die komplekse smake van groente en vleis te hanteer. “Suiker het ook ’n invloed op hul eetlus en dra by tot leë kalorieë, wat veroorsaak dat die voedingswaarde van die kos wat jou kind eet, afneem. Probeer dus om vir so lank as moontlik nie sout of suiker by kos te voeg, en laat lekkernye op ’n verantwoordelike manier toe.”

Wat is algemene foute wat ouers maak met kinders en kos?

“In my ervaring vind ek dat ouers te veel kos gee (overfeeding) en dikwels kos as beloning of straf gebruik. “Kos soos koekies en tjips wat baie kalorieë en min voedingswaarde bevat, kan dit ook laat lyk of jou kind goed groei (in terme van lengte en gewig) terwyl hulle eintlik onderliggende tekorte het. Die algemeenste tekorte wat ek in my praktyk sien, is vitamien D, folaat, yster en vitamien B12.”

Dikwels kan ’n ouer nie beheer wat sy kind by die speelgroepie of kindersorg eet nie. Watter raad het jy?

Raak betrokke. Dit is jou verantwoordelikheid as ’n ouer om met nuwe, bekostigbare idees vorendag te kom om kinders aan te moedige om gesonde, voedingryke kos by die skool te eet. Jy kan begin deur met die skoolhoof te gesels om reëls te maak vir watter peuselhappies toegelaat mag word by die skool. Ouers kan ook op  ouergroepies (bv. WhatsApp-groepies) idees vir gesonde middagetes uitruil. Julle kan selfs ’n dieetkundige betrek om die skool te help om gesonde maaltye uit te werk.”

Wat is die mees algemene  korttermyn- asook langtermyngevolge van ’n ongebalanseerde dieet?

“Dikwels is die probleme nie opvallend in die kind se vroeë jare nie. Dinge soos konsentrasie-probleme en voedingstekorte gaan dikwels onopgemerk verby omdat die kind gesond lyk. “Slegte eetgewoontes se gevolge begin gewoonlik kop uitsteek sodra die kind skool toe gaan, wat dan dikwels lei tot ’n oorgewig kind. Om oorgewig te wees beïnvloed kinders ook op ’n emosionele vlak: hulle word dikwels geterg en is ook minder geneig om om aan sport deel te neem omdat hulle vinnig moeg raak.”

Wat is die beste raad wat jy vir ouers kan gee oor die onderwerp?

Jou voorbeeld beteken meer as jou woorde. Begin deur jou eie leefstyl en koskeuses te bestudeer. Hoe verwys jy na seker tipes kos en wat is jou eie verhouding met kos? Jy het die stryd halfpad gewen as jy met jouself kan begin. Vergeet van diëte en kitsoplossings en maak seker jou leefstyl is ’n gesonde, aktiewe een.

Probeer bepaal wanneer jou kind werklik honger is en wanneer hy/sy versadig is. Bring familie-etes terug en probeer om so min as moontlik afleiding, soos televisie, te hê as julle eet. En hou kos in jou huis wat dit onnodig maak om beperkinge daarop te sit.

* Besoek gerus Cornelia Owens se Facebook-blad vir meer oor kindervoeding.

* Navorsing verander voortdurend, so lees altyd alle artikels krities. Jy kan self meer oor die stand van ons land se gesondheid gaan lees deur die omvattende Suid-Afrikaanse Nasionale Gesondheids- en Voedingsondersoek (SANHANES) en die Departement van Gesondheid se strategiedokument vir die Voorkoming en Beheer van Vetsugtigheid, te bestudeer