Jy kan verslaaf wees aan rondtol en #eatingclean beoefen, of jy kan, soos ons, die gim af en toe besoek en oor die algemeen ’n ogie hou oor wat jy eet; ons glo daar is in elke geval sekere mites ten opsigte van dieet wat jy navolg, byvoorbeeld as jy dink jou liggaam kort suiker wanneer jy lus is vir iets soets?

Of ’n smoothie wat net van vrugte gemaak is – dit moet mos gesond wees, of hoe? Lees verder en kyk waar jy miskien mistas.

Dis gesond om na jou liggaam te luister en dit sluit enigiets in: van jou natuurlike instink tot om op te hou met eet wanneer jy versadig voel. As jy egter begin hunker na iets soets en die koekieblik nadertrek, behoort jy weer te dink.

“Jou liggaam kan enigiets in glukose omsit; eet dus liewer ’n paar kasjoeneute!” is die raad van Mind Body Green. “Jy sal verbaas wees om te vind dat laeglukemiese happies, soos neute, kaas of hummus, die drang in toom sal hou en jou help om langer versadig te voel.

“As ons, aan die ander kant, goed soos bagels, skyfies, pretzels en soetgoed, wat ’n hoë glukemiese inhoud het, nadertrek, hou die drange eenvoudig aan en aan.” Die volgende besprekingspunt is die debat oor smoothies – moet jy drink of moet jy nie drink nie? Wel, die navorsers en kundiges raai jou aan om weg te bly van die versapper af, aangesien die drankie oëverblindery is, wat gesond lyk, maar eintlik skadelik kan wees. Omdat groot hoeveelhede vrugte gebruik word, is die suikervlakke hemelhoog. Droëvrugte val in dieselfde kategorie. As jy ’n regtig lief is vir vrugte, eet liewer die heel stukke, aangesien jy so meer vesel sal inkry en dit sal die vertering van die natuurlike suiker verlangsaam.

"Om heeltemal oorboord te gaan, is malligheid"

Nog ’n grys gebied waaraan baie van ons ons skuldig maak, is om ons te vergryp aan kos ná ’n oefensessie. Dit het wel sin om jouself te bederf op dae wanneer jy geoefen het, pleks van dae wanneer jy gerus het, maar om heeltemal oorboord te gaan nadat jy by die gim was, is malligheid en moet vermy word.

Die gedagte aan ’n happie sjokolade kan jou wel aanspoor terwyl jy hardloop, maar jy verbrand eintlik nie so baie kilojoules soos wat jy tydens daardie sessie gedink het nie.

Jammer.

In ’n onlangse studie is trouens bevind dat mense vier keer meer kilojoules kan skat as wat hulle in werklikheid verbrand het!

Dit is goed om jouself te bederf, maar moenie die goeie werk waarvoor jy so pas jou alie afgesweet het, ongedaan maak nie.

© Cover Media