Kenners waarsku egter hoewel die kunsmatig versoete drankies beter is vir die middellyf, dit ’n mens gouer dronk kan maak – en ons selfs oor die drink-en-bestuur-perk kan stoot.

Amerikaanse navorsers van die Noord-Kentucky-universiteit het 20 mans en vroue bestudeer en hul asem getoets nadat hulle óf wodka-en-limonade óf wodka-en-dieet-limonade gedrink het.

Hoewel die hoeveelheid alkohol dieselfde was, was die lesings 25 persent hoër by dié wat dieet-mengdrankies gedrink het.

Die verskil is so groot, wetenskaplikes wil hê kroegbase moet hul personeel en klante teen die gevare van die dieetdrankiekeuse waarsku. Die navorsingstuk in die tydskrif Drug and Alcohol Dependence beweer nou glo suikerryke mengdrankies kan dieselfde uitwerking hê as kos wat die deurgang van die alkohol na die bloedstroom vertraag.

Hul grootste kopseer is vroue, want hulle is dikwels die mense wat dieetdrankies verkies.

Dieselfde Amerikaanse span het al tevore soortgelyke navorsing gedoen. Hul studies het bevind dieet-mengdrankies kan iemand oor die drink-en-bestuur-perk stoot.

Aangesien proefkonyne wat die laekilojouledrankie gedrink het, nie meer hoenderkop gevoel het nie, kon dit daartoe gelei het dat hulle per ongeluk dronk bestuur.

Hul grootste kopseer is vroue, want hulle is dikwels die mense wat dieetdrankies verkies.

“Hoewel almal wat alkohol drink bewus behoort te wees van hierdie verskynsel, blyk dit meer waarskynlik te wees dat vroue alkoholiese drankies met ’n dieet-mengdrankie sal kies, gegewe die feit dat hulle meer geneig is om te let op kilojoules,” waarsku dr. Cecile Marczinski, skrywer van die studiestuk.

“Jong vroue kan besonder kwesbaar wees, aangesien hulle dikwels dieet-mengdrankies saam met alkohol drink en dan boonop nog hul voedselinname beperk wanneer hulle drink, om sodoende die inname van kilojoules, en eindelik die gewig van hul liggame, te beheer.”

Onthou dit is veiliger om drank heeltemal uit te los op die aande wanneer jy agter die stuurwiel inskuif.

© Cover Media