’n Dieetplan is nou uitgewerk wat die kognitiewe agteruitgang in ouer wordende volwassenes teëwerk. Dit werk selfs al loop iemand nie die risiko om Alzheimersiekte te ontwikkel nie. Wetenskaplikes van die Rush-Universiteit se mediese sentrum in Chicago het die dieet bestudeer en bevind dit kan die veroudering van die brein beduidend vertraag.

Dit staan bekend as Mind (Mediterranean-DASH Intervention for Neurodegenerative Delay), en die dieet en dieetplan sluit minstens drie porsies volgraanprodukte, ’n groen blaargroente en een ander groentesoort per dag in. As dit alledaags klink, sal jy bly wees om te hoor daar is ook ’n glas wyn ingesluit, en so ook neute as peuselgoed, hoender en bessies twee keer per week, vis een keer per week en boontjies elke tweede dag.

Rooivleis, botter en margarien, volroomkaas, fyngebak, lekkers en braaigeregte of kitkos is egter almal taboe en behoort heeltemal vermy te word.

Die navorsers het die dieet getoets deur 960 volwassenes te monitor wat nie aan demensie gely het toe met die ondersoek in die Rush-geheue-en-verouderingsprojek begin is nie. Hul gemiddelde ouderdom was 81,4 jaar. Hulle is jaarliks uitgevra oor hul eetgewoontes en hulle is aan toetse vir kognitiewe vermoëns onderwerp.

In die resultate is bevind dat die mense wie se dieet die meeste met Mind ooreengestem het, tekens getoon het dat hulle kognitief 7,5 jaar jonger was as dié wat nie werklik die dieet gevolg het nie.

Navorsers het ook gevind dat die eetplan moontlik iemand se risiko vir die ontwikkeling van Alzheimersiekte kan halveer. Dit kan ook die risiko op kardiovaskulêre toestande soos hoë bloeddruk, hartaanvalle en beroerte verlaag.

Die resultate is in die tydskrif Alzheimer’s & Dementia gepubliseer, en dr. Martha Morris, wat die dieet ontwikkel het, het oor die belangrikheid van die bevindings gepraat.

“Almal ondervind agteruitgang wanneer hulle ouer word, en Alzheimersiekte is tans die sesde hoogste oorsaak van sterftes in die VSA. Dit verklaar 60 tot 80 persent van demensiegevalle.

“Die voorkoming van kognitiewe afname, ’n kenmerk van demensie, is dus nou van groter belang as ooit tevore.

“Die vertraging met slegs vyf jaar van die beginstadium van demensie kan die koste en voorkoms daarvan feitlik halveer,” het sy gesê.

Benewens deur ’n gesonde dieet word die risiko vir demensie verlaag as ’n mens liggaamlik en geestelik aktief bly en glad nie rook nie.

© Cover Media