As daar een vraag is wat ek bykans op 'n daaglikse basis in my praktyk kry is dit "Dokter, hoekom sukkel ek so om gewig te verloor?". Die kort antwoord: daar is nie 'n standaard antwoord wat vir almal geld nie. Elke liggaam op hierdie aarde is uniek, en wat vir een persoon gaan werk, gaan nie noodwendig vir 'n ander werk nie.

Dink aan die buurvrou wat aan die begin van die jaar so oorgewig was dat sy skaars by haar voordeur kon uitkom, en sedertien elke week 'n rokgrootte verloor het deur net brood uit te sny. Maar as JY brood uitsny, verloor jy nie eens 'n kilogram 'n maand nie!

Daar is letterlik honderde redes waarom mense nie gewig verloor nie, en om elkeen te noem is net nie moontlik nie. Maar hier is my top vyf redes waarom die meeste mense sukkel.

1. Jy volg generiese eetplanne

Die een groot fout wat mense maak is om te dink een eetplan werk vir almal. 'n Vinnige google soektog na "diet plan" lewer letterlik 110 miljoen resultate op! As een plan vir almal gewerk het, sou daar beslis nie soveel resultate gewees het nie, en sou almal soos wilgertakke gelyk het.

Elke liggaam op aarde is 'n komplekse en unieke masjien, en wat vir die een persoon gaan werk, gaan nie vir 'n ander werk nie. Jou liggaam is uniek en moet nie dink 'n generiese eetplan gaan beslis resultate oplewer nie. Eetplanne is soos 'n koekresep - dit wys jou wat om te doen om die koek te bak, maar jou koek gaan nie noodwendig soos die een op die foto lyk nie!

Vind 'n riglyn waarmee jy gemaklik is, en bespreek dit met 'n dieetkundige wat vir jou raad kan gee en aanpassings kan maak wat vir JOU gaan werk.

2. Jy oefen nie, of oefen verkeerd

As daar nou een ding is waarvan mense nie hou nie, is dit om strawwe oefening te doen om kilogramme te verloor. Om jouself vir ure op 'n dag te straf in 'n gimnasium is nie net onaangenaam nie, maar gaan jou heel waarskynlik net beserings in die sak bring.

Die regte oefening, in die regte hoeveelheid is belangrik! Aan die anderkant, om niks te doen nie en te hoop die gewig gaan wegsmelt, is ook nie realisties nie.

Om gewig te verloor, verg 'n totale leefstylverandering. Die REGTE oefeningsprogram is belangrik! Dit is soos 'n eetplan - wat vir die een persoon gaan werk, gaan nie vir 'n ander werk nie.

3. Jy dink jouself "onrealisties" maer

'n Bridget Jones oomblik! "All by myself". Bykans almal wat gewig verloor het 'n prentjie in hul kop van hoe hy of sy wil lyk. Vra ek mense hoeveel gewig hulle wil verloor is dit gewoonlik "so 10 na 15 kg".

Maar die prentjie in hul kop is dikwels om van 'n Melissa McCarthy na 'n Angelina Jolie te gaan. Ja dit gebeur dat mense dramaties gewig verloor, maar dit vat tyd en energie en gaan beslis nie oornag gebeur nie. Vat dit stap vir stap. Stel REALISTIESE en haalbare doelwitte.

4. Van uitstel kom afstel

"Ek weet ek moet gewig verloor, maar sal volgende week begin."

Volgende week kom en gaan en niks gebeur nie. Hoekom nie? Gewigsverlies is nie 'n vinnige in-en-uit saak nie. Die idees en ideale is daar, maar die motivering is afwesig.

Jy kan al wat 'n eet- en oefenprogram volg, maar as die spasie in jou kop nie uitgesorteer is nie, gaan jy nie sukses behaal nie. Die beste tyd om jou leefstyl te verander is NOU!

5. Te veel, te vinnig

By verre een van die algemeenste redes hoekom meeste mense nie sukses behaal nie!

Binne een begin mense die strengste eetplan onder die son gekombineer met 'n oefenprogram wat weermagoefeninge na kinderspeletjies laat lyk.

Te veel, te vinnige veranderinge in leefstyl kan nie volgehou word nie, al wil jy hoe graag. Jou liggaam gaan in opstand kom hierteen, en jy gaan ophou voordat jy enige resultate gesien het.

Hier is my "tick-box" lysie na 'n nuwe, gesonder jy:

1. Vind 'n eetplan wat jy by aanklank vind en bespreek dit met 'n dieetkundige om te kyk of dit vir jou kan werk en maak die nodige aanpassings.

2. Begin oefen sodra jou liggaam gewoond is aan jou nuwe eetplan.

3. Doen die regte oefening.

4. Maak 'n lysie van jou kort- en langtermyn doelwitte en probeer daarby hou. Beloon jouself as jy deurdruk!

5. Kry jou kopspasie reg as motivering - anders gaan niks werk nie!

Lees ook: Kry só jou kop reg om eindelik daai ongewenste kilo’s af te skud

20160914pm-46

Het jy ’n vraag vir dr Owen? Klik hier om met hom te gesels!

die-eet-oorlog

  • Nuwe episodes van Die Eet Oorlog word weeksdae om 17:00 uitgesaai met ’n omnibus op Saterdae van 14:30 tot 17:00 en Sondae van 12:00 tot 14:30.