Wetenskaplikes van die Universiteit van Sydney het 60 000 Australiërs ouer as 45 gewerf en hul vrugte-en-groente-inname, sielkundige angs en leefstylfaktore op twee datums gemeet: tussen 2006 en 2008 en toe weer in 2010.

Die Kessler Psychological Distress Scale, ’n 10-punt-vraelys wat simptome van angs en depressie meet, is gebruik om die deelnemers se stresvlak te bepaal.

Eienskappe wat aan die begin van die eksperiment met stres geassosieer is, het ingesluit jeugdigheid en oorgewig of vetsug. Vroue het ook meer stres as mans ondervind. Die respondente het ook kort vrae oor hul inname van vrugte en groente beantwoord.

Die navorsers het ontdek mense wat elke dag aan drie of vier porsies groente smul, het ’n 12 persent laer risiko vir stres.

Onder die vroue was die resultate selfs meer sigbaar. Dames wat aan drie tot vier porsies weggelê het, ’n 18 persent laer risiko op angstigheid gehad het as diegene wat net een porsie of glad niks groente geëet het.

Die hoeveelheid vrugte wat ingeneem is, het geen verband getoon met die verlaging van stres nie. Daar was ook geen beduidende korrelasie tussen hoër inname van vrugte en groente – meer as sewe porsies per dag – en laer stresvlakke nie.

“Dié studie toon dat ’n matige daaglikse inname van vrugte en groente geassosieer word met laer vlakke van sielkundige stres,” het dr. Melody Ding van die School of Public Health aan die Universiteit van Sydney opgemerk.

“Dit dui ook aan dat ’n matige daaglikse inname van groente gekoppel word aan laer stres, maar dat die matige inname van vrugte alleen geen opmerklike voordeel vir mense se sielkundige stres inhou nie.”

Die skrywers het bygevoeg dat nog navorsing gedoen moet word om ’n moontlike “drempel” tussen middelmatige en hoër vlakke van inname en sielkundige angs te vind.

© Cover Media