Wie hou nie van sjokolade nie? Ons weet van niemand nie. Boonop het onlangse navorsing ons ’n grondige rede gegee om nie meer skuldig te voel wanneer ons een van hierdie plesiertjies geniet nie! Natuurlik moet ’n mens steeds matigheid voor oë hou, maar wetenskaplikes reken ’n paar blokkies verlaag die risiko vir beroerte of hartsiektes.

’n “Verslag wat onlangs in die mediese tydskrif Heart gepubliseer is, toon ’n mens se gesondheid kan baat vind by die eet van donker- of melksjokolade. Die bevindings is gegrond op ’n 12 jaar lange studie van 21 000 Britte.

Dit verskil heeltemal van die raad wat baie mense met ’n risiko vir hartsiektes kry, naamlik om soet en vetmakende voedselsoorte te vermy.

“Dit lyk nie of daar enige bewyse is dat diegene wat bekommerd is oor die risiko vir hartvatsiektes sjokolade behoort te vermy nie,” het die navorsers, wat van die universiteite van Aberdeen, Manchester, Cambridge en Oos-Anglia af kom, aan die tydskrif gesê.

In die studie is bevind 11 persent van mense wat gereeld sjokolade eet, sal waarskynlik minder geneig wees om ’n hartaanval, beroerte of ander hartvatprobleem te hê as mense wat geen sjokolade eet nie. Van die sjokolade-eters het 100 g per dag geëet, en dit is ook verbind met ’n 25 persent laer kans om aan ’n hartprobleem te sterf.

Die navorsing het egter net die statistiese neigings bestudeer, en die navorsers het toegegee dat daar ’n kans is dat die resultate beïnvloed is deur die feit dat mense met ’n hoë risiko vir hartsiektes wel soetgoed vermy. Dit beteken diegene wat gereeld dié bederfie eet, is dalk in elk geval gesonder.

“Tog suggereer die bevindings dat ’n hoë inname van sjokolade verband hou met kardiovaskulêre voordele,” het die navorsers bygevoeg.

In die verlede is gesê donkersjokolade hou gesondheidsvoordele in, maar hierdie navorsing toon variëteite wat meer melk bevat, kan ook heilsaam wees.

“Diegene wat ondersoek is, het meer dikwels melksjokolade as donkersjokolade geëet,” het hulle voortgegaan. “Ons het egter steeds ’n verlaagde risiko vir hartvatsiektes opgemerk. Dis moontlik dat bestanddele soos kalsium en vetsure wat in melk voorkom die rede hiervoor is.

© Cover Media