Refleksologie bestaan al meer as 5 000 jaar, maar is steeds ’n gewilde manier om pyn te verlig. En wanneer ’n praktyk so duursaam is, moet daar iets in steek. Maar waarmee kan refleksologie jou alles help?

“Jy kan ’n afspraak by ’n refleksoloog maak omdat jy liggaamlik of geestelik uitgeput is of omdat jou rug so seer is dat jy wil hê niemand moet daaraan raak nie. Ons kan die pyn help verlig deur net die voet te masseer,” verduidelik Romain Dagonet, ’n beroepsrefleksoloog van Neuilly-sur-Seine, naby Parys, Frankryk. “Jy kan ook ’n afspraak maak omdat jy pynlike maandstonde of ’n verkoue het. Die pyn kan in net ’n uur verlig wees.”

Die tegniek is gegrond op die uitoefening van druk op sekere plekke op die voet. Dis soortgelyk aan akupunktuur, maar nie so vreesaanjaend nie.

“Refleksologie is op dieselfde beginsel as akupunktuur gegrond, maar sonder die naalde. Ons druk op verskillende dele van die voet, waar die organe se senuwees eindig,” sê hy.

“Deur dit te stimuleer, kan ons die organe help verfris.”

Jy wonder dalk hoe refleksologie van ’n gewone voetmassering verskil. Wel, dit is effens ingewikkelder en meer spesifiek.

“Die benadering is anders. Eerstens is dit ’n terapeutiese benadering. Massering help jou liggaamlik ontspanne voel. Met refleksologie reageer ons op die energie van die organe.

“ ’n Massering betrek meestal jou spiere. Die idee van refleksologie is om die ongebalanseerde organe te soek. En met baie spesifieke druk vra ons dan die orgaan om weer normaal te werk,” verduidelik Romain.

Beteken dit jy sal nooit weer hoef dokter toe te gaan nie? Nee, nie heeltemal nie. Maar refleksologie kan ’n nuttige aanvulling tot tradisioneler metodes wees.

“My pasiënte kom sien my meestal omdat hulle moeg is, hul hele lyf seer is, of hulle moet ontspan en hul batterye herlaai. Refleksologie is ’n byvoeging, net soos osteopatie,” verduidelik hy.

“Mense sê dis ’n wetenskap, ’n kuns en ’n filosofie. In China sê hulle jou voete is die weerspieëling van jou siel.”

© Cover Media