Wanneer jy die woorde “plantgegronde dieet” hoor, kan dit beelde oproep van hasiekos, wortels en blaarslaai. Maar die voordele van ’n plantgegrondde eetplan kry nou meer aandag en raak ál gewilder. Ons kyk na hoe minder vleis in jou dieet jou energievlakke kan verhoog en ’n kleiner middel en beter spysvertering tot gevolg kan hê.

Besparing

’n Plantgegronde dieet lê gewoonlik die klem om meer vrugte, groente, peulgewasse en volgraan, maar kan ook beskeie hoeveelhede vis, maer vleis en suiwel toelaat. In die algemeen is plante goedkoper as vleis (buiten dié bekend as superkos), so jou beursie gaan ook gelukkiger wees.

Energievlakke

Plante gee die liggaam dadelik energie omdat dit baie min vertering vereis. Dit beteken al die goeie voedingstowwe word dadelik opgeneem. Boonop reguleer die vesel daarin ook jou stoelgang, so jy dra nie so baie ekstra afval rond wat jou so tam laat voel nie.

Gewigsverlies

Die meeste plante het baie min kalorieë, wat beteken jy kan meer daarvan eet. Dit is ook vullend en gaan jou nie laatmiddag laat lus kry vir peusel nie. Dié wat slaafs kalorieë tel, kan ook rustiger slaap; etikette lees is iets van die verlede.

Blink hare, gloeiende vel

Die voedingstowwe in plante gee jou hare en vel onmiddellik ’n hupstoot. Om die liggaam deur afskeiding te suiwer hou ook voordele in vir die vel. Omdat plante propvol vitamiene en minerale is, is ’n plantgegronde dieet ’n natuurlike manier om ’n gloeiende gelaat te kry.

Beter gesondheid

Jou immuniteitsvlak is verwant aan jou ingewande; gesonde ingewande beteken ’n gesonde liggaam. Verwerkte kos vol suiker, sout en bymiddels is sleg vir jou ingewande. Eet daarom eerder plante, wat propvol voedingstowwe is wat jou immuunstelsel versterk.

© Cover Media