Die mense wat vleis en pluimvee uitskakel, maar tog van vis hou, is nie deeltydse vegetariërs nie; hulle pas hulle slegs aan by ’n vissersdieet.

Onlangse navorsing in die VSA het 77 659 mans en vroue betrek van die Sewendedagadventistekerk, van wie heelwat vegetariërs is.

Dié wat ’n dieet volg wat ryk is aan vis en groente (maar geen vleis nie) se risiko om kanker van die ingewande te kry was 43 persent laer. By vegetariërs was daar ’n 22 persent laer kans op die siekte as by vleiseters. By deeltydse vegetariërs word die risiko met agt persent verlaag. As jy alkohol en rooivleis of verwerkte vleis inneem, en ook as jy rook en oorgewig is (veral om die middel), word dit dikwels aangedui as hooffakore by die risiko vir ingewandskanker.

'Wanneer jy meer vis by jou dieet voeg, sal jou inname van omega-3 ook verhoog.'

Medeprof. Michael Orlich van die Loma Linda-Universiteit, Kalifornië, het gesê: “Die resultate van hierdie studie blyk in ooreenstemming te wees met vorige getuienis wat dikwels die inname van rooivleis, veral verwerkte vleis, verbind met ’n verhoogde risiko vir kolorektale (ingewands-) kankersoorte.”

“Hoewel ’n verminderde inname van vleis ’n grondrede kan wees vir die risiko (soos by vegetariërs getoon), kan ’n toename in die eet van verskeie soorte heelplantvoedsel ook ’n bydrae lewer tot die afname.”

Hy sê voorts ’n vegetariese dieet sluit gewoonlik minder verfynde graansoorte, bygevoegde vette, soetigheid, peuselkos en drankies met ’n hoë kilojoulewaarde in.

Die dieet is gewoonlik gesonder; dus is vegetariërs geneig om minder swaarlywig te wees. Dit sluit aan by vorige navorsingstukke wat aandui dat meer vet om die middel kan lei tot ’n verhoogde risiko vir kolorektale kanker.

“Sommige navorsingstudies het op ’n soortgelyke manier gesuggereer dat insulienagtige groeifaktore en bindingsproteïene (“IGFBP”) kan neerkom op ’n risiko vir kanker,” het Michael opgemerk.

Wanneer jy meer vis by jou dieet voeg, sal jou inname van omega-3 ook verhoog. Daar is voorheen bevind dat omega-3 gesondheid van die hart verbeter.

© Cover Media