Maar daar is goeie nuus – al het jy nie ’n spesiale persoon in jou lewe nie, glo die tydskrif Time daar is ’n paar gesondheidsvoordele daaraan verbonde.

Jy is minder geneig om gewig aan te sit

In ’n studie wat in 2013 in die joernaal Health Psychology gepubliseer is, is daar bevind gelukkig getroude paartjies is geneig om vier jaar ná hul troue gewig aan te sit omdat hulle nie meer die druk voel om op hul beste te lyk nie en selftevrede kan raak. En vanjaar is daar in ’n studie deur die Universiteit van Minnesota bevind getroude mans is meer geneig om oorgewig of vetsugtig te wees, vergeleke met hul enkellopende eweknieë of dié wat in verhoudings of verloof is.

Jy is meer geneig om te oefen

Dit sluit aan by bogenoemde bevindings dat enkellopers meer begaan oor hul gesondheid en algehele welstand as getroudes is. Daar is in 2011 in ’n Britse peiling bevind ’n driekwart van getroude mans en byna ’n derde van getroude vroue voldoen nie aan die aanbevole 150 minute se fisieke aktiwiteite per week nie, teenoor slegs ’n kwart van enkellopende mans en ’n derde van enkellopende vroue.

Jy sal sterker vriendskapsbande hê

Die bevinding in ’n studie aan die Universiteit van Massachusetts by Amherst in 2006 dat enkellopers hul hegte vriendskappe beter handhaaf as hul getroude eweknieë, is dalk nie so ’n groot verrassing nie. Enkellopers is meer geneig om ’n netwerk mense te hê wat vir hulle belangrik is, pleks van op net Die Een te fokus.

Jy stres minder

Enkellopers is dalk bekommerd oor of hulle iemand sal ontmoet met wie hulle hul lewe kan deel, maar hulle bekommer hulle nie soveel oor alledaagse dinge soos geld en huistake nie, volgens ’n peiling wat vanjaar gedoen is. Daarin is bevind dat van die meer as 2 000 volwassenes in verhoudings het een uit drie “finansiële ontrouheid” erken, oftewel dat hulle vir hul maat oor geldsake gejok het. Getroudes is ook meer geneig om kredietkaartskuld te hê – dis nie ’n gesondheidskwessie nie, maar wel een wat ’n negatiewe uitwerking op emosionele en fisieke welstand het.

© Cover Media