In ’n onlangse studie is die klem gelê op vroue wat gereeld hoëhakskoene werk toe dra. Daar is bevind hoewel die spiere om die enkels aanvanklik versterk word deur dié skoeisel, is die spiere later meer aan verstuiting onderhewig, aangesien hulle te oorheersend word.

Dr. Jong-Seok Jee van die Hanseo-universiteit in Suid-Korea het bevindings van 40 beroepsvroue aangeteken wat ongeveer drie keer per week skoene met uiters hoë hakke dra. Die spiere in hul enkels het ná een tot drie jaar oorheersend geword.

“Aangesien hoë hakke modieus is en noodsaaklik in sekere beroepe, is baie vroue dalk onbewus van die omvang van die verswakking wat (die skoene) op hul bewegingsbalans het,” sê Jong-Seok.

“Sonder behoorlike instandhouding en kondisionering kan groot ongelukke, byvoorbeeld valle en enkelverstuitings, die uiteinde wees.”

Die gereelde dra van hoëhakskoene kan ook lei tot ongesonde looppatrone en rugpyn.

Jong-Seok glo dat dit hoog tyd is dat vroue “voorkomende maatreëls” tref voor hierdie probleme opduik. Eerstens behoort hoë hakke minder dikwels gedra te word en wanneer vroue verkies om dit te dra, moet hulle ’n paar kies wat baie ondersteuning bied in die vorm van sterk bandjies of ’n bonkige hak.

Hy beveel ook aan dat vroue oefeninge doen wat die enkels versterk, soos om op die hak van die voet te loop, met die bal van die voet opgelig.

Dan is daar nog toontikkery. Sit met jou kaal voete op die grond en lig die voorkant van jou voet op terwyl die hak op die grond bly.

“Dit is van kliniese belang dat mense wat hoëhakskoene dra (hierdie) oefeninge gereeld doen,” het Jong-Seok bygevoeg.

Dink dus mooi wanneer jy jou versameling skoene deurkyk – moet jy nou regtig daardie sesduimhakke dra? Spaar gerus jou beste hoëhakskoene vir spesiale geleenthede.

Die bevindings is in die International Journal of Clinical Practice gepubliseer.

© Cover Media