Hulle het die dood geflous – en leef nou danksy die nier, hart of longe van ’n skenker wat in hulle oorgeplant is. Maar dis nie al nie. Van hierdie oorplantingspasiënte het in atlete van wêreldformaat ontpop en neem in Augustus aan die Wêreld-oorplantingspele in Australië deel. Wat krag, toewyding en lewenslus betref, staan hulle vir niemand terug nie

Deur Leoni Benghiat

Alice Vosloo, wat aan sistiese fibrose ly, kon ’n skrale 18 maande gelede nie sonder haar suurstofmasker beweeg nie. Toe kry sy ’n longoorplanting en vanjaar is sy een van ons topatlete by die Wêreld-oorplantingspele, waar sy aan die 800 m-naelloop, muurbal en 3 km-stapwedloop gaan deelneem.

“Op die meeste foto’s in my ma se album sal jy sien hoe ek probeer glimlag tussen die ewige suurstofbuise in my neus deur!” sê die fikse 24-jarige Johannesburger. “Die vyf jaar voor my longoorplanting kon ek skaars ’n paar treë loop sonder om te worstel om asem te haal.” Huisgenoot-Pols het met Alice en nog ’n paar van Suid-Afrika se oorplantingsatlete gaan gesels en as ’n mens na van die aksiefoto’s kyk wat ons van hulle geneem het, is dit moeilik om te glo dat enigeen van hulle ooit aan ’n dodelike siekte gely het.

Op die baan waar ons hom afneem, maak die 18-jarige Trevor Gird hom gereed om teen die stophorlosie te hardloop en sy tyd vir die 800 m-naelloop te verbeter. Anderhalf jaar gelede was dié energieke tiener nog bedlêend en op die rand van die dood as gevolg van ’n aangebore hartkwaal. Nou kan hy nie genoeg van sport kry nie en is hy sommer die josie in omdat hy nie aan ’n kontaksport soos rugby of krieket mag deelneem nie.

“Niks keer my darem om aan byna elke ander sportsoort deel te neem nie!” sê hy met ’n glimlag. Sy vrolike energie is aansteeklik. Sy moed ken geen perke nie.

Die Wêreld-oorplantingspele is nie ’n sommerso sportgebeurtenis nie. Inteendeel. Hierdie wêreldklasspele se hoë standaarde word gestel deur atlete wat ’n verbete veggees het. Die wêreldrekord vir die 100 m-naelloop staan op 11,18 sekondes – net twee en ’n bietjie sekondes stadiger as die wêreldrekord van 9,69 sekondes wat in verlede jaar se Olimpiese Spele deur die Jamaikaanse naelloper Usain Bolt opgestel is.

Die wêreld se oë begin oopgaan vir hierdie prestasies en Amerika, Australië en verskeie Europese lande begin nou geld in dié atlete belê om hulle op gelyke voet te kry met hul Olimpiese en Paralimpiese eweknieë.

Waarom kan hulle dan nie maar aan die Olimpiese of Paralimpiese Spele deelneem nie? Doodeenvoudig omdat die middels wat hulle gebruik om orgaanverwerping te voorkom, soos stimulante is. Ná net meer as twee dekades het die Wêreld-oorplantingspele nou ’n eie aansien verwerf – en Suid-Afrika is trots deel daarvan.

Op die vorige Oorplantingspele, wat in 2007 in Bangkok gehou is, het 22 van ons voorste oorplantingsatlete vyf goue, agt silwer- en agt bronsmedaljes huis toe gebring. Dis altesame 21 medaljes. En vanjaar gaan die Suid-Afrikaanse span die grootste ooit wees met 45 lede wat tussen 18 en 62 jaar oud is..

Tweede asem

Alice Vosloo (24)

800 m-naelloop, muurbal, 3 km-stapwedloop

18 maande ná haar longoorplanting

Skaars 18 maande gelede was Alice Vosloo van Johannesburg se hande altyd blou en haar gesig’n vreemde gryserige kleur. Toe sy klein was en soms in ’n winkel soek geraak het, het haar ma net = op die gefolterde hoes en harde gehyg afgeloop. Sistiese fibrose is by haar gediagnoseer toe sy twee was, maar Alice se siekte het op 21 werklik onbeheerbaar geword.

Sistiese fibrose is ’n oorerflike siekte wat die slymkliere van die longe, lewer, pankreas en ingewande aantas. Dit veroorsaak gereelde longinfeksies, toenemende ongeskiktheid en in die meeste gevalle ’n vroeë dood. Namate haar siekte ontwikkel het, het Alice se lewe dramaties verander. Die slym wat opgebou het, het haar longe ’n teelaarde van infeksie gemaak en haar longfunksie het skerp tot 20 persent geval.

“Dit het onmoontlik geword om selfs net een stel trappe uit te klim,” onthou sy. Sy het ook herhaalde longinfeksies opgedoen en moes haar studie vir ’n honneursgraad in rekeningkunde prysgee. Haar studentelewe is vervang met uitputtende fisioterapiesessies drie keer per week, newelspuite wat haar naar gemaak het en yslike dosisse antibiotika daagliks, saam met jaagtogte hospitaal toe.

“Een slag het ’n ambulans in die middel van die nag met my hospitaal toe gejaag,” sê Alice. “Ek kon nie asem kry nie. Dit was die naaste wat ek nog aan die dood gekom het.” Hierna was Alice meestal tot die huis beperk en volkome van suurstof afhanklik. “Dokters in Suid-Afrika oorweeg nie graag longoorplantings nie omdat die operasie so gevaarlik is,” verduidelik Alice se ma, René. Daarby is ’n baie groot persentasie Suid-Afrikaners met tering besmet, en skenkerlonge moet hier dus sorgvuldiger getoets word as op enige ander plek ter wêreld.

Maar nadat die Vosloos al die moontlikhede ondersoek het, het Alice vasbeslote geword om ’n longoorplanting te ondergaan, ongeag die risiko. Eindelik is sy in Mei 2007 op ’n waglys geplaas. So het die skynbaar eindelose gewag begin. Sou sy ooit haar tweede kans kry?

“In dieselfde tyd dat ek vir ’n dubbele longoorplanting getoets is, is vasgestel ek het ook diabetes wat met sistiese fibrose verband hou,” sê Alice. “My lewe het uit hoop en wag bestaan, veral omdat ek ál afhankliker geword het van aanvullende suurstof.”

Om 23:30 die aand van 21 Januarie verlede jaar het Alice die oproep ontvang: Haar nuwe longe het op haar gewag. Ná ’n procedure wat langer as sewe uur geduur het, het sy die jongste mens in die land geword wat ’n longoorplanting ondergaan het. “Toe ek ná die operasie wakker word, was die eerste ding wat tot my deurgedring het dat ek myself nie kon hoor asemhaal nie!” sê sy laggend.

Met hul hele hart

Melanie Gird (24)

fietsry, 5 km-stapwedloop

twee en ’n half jaar ná haar hartoorplanting

Trevor Gird (18)

fietsry, 800 m-naelloop

18 maande ná sy hartoorplanting

“Gaan ek bly lewe of wag die dood op my?” Langer as ’n jaar het die 16-jarige Trevor Gird van Klerksdorp met hierdie vraag geworstel. Dié voorheen gesonde tiener het aan ’n oorerflike hartsiekte gely, dieselfde siekte wat skaars maande tevore byna die lewe van sy suster Melanie, toe 22, geëis het. Wonderbaarlik is Melanie se lewe in Januarie 2007 op die nippertjie deur ’n hartoorplanting gered.

Maar Trevor se lewe was steeds in die weegskaal terwyl ook hy op ’n skenkerhart gewag het. Verlede jaar het die hele land die Girdgesin se wel en wee gevolg in die M-NetwerklikheidsreeksThe Heart is Beautiful. Die reeks het die dramatiese gebeure rondom Melanie en Trevor se hartoorplantings gewys: die spanningsvolle afwagting en toe die operasies self.

Dit het, tot almal se dankbaarheid, vir al twee goed afgeloop. Die jong atlete se ouers, Maryke en Trevor, het albei die geen gehad vir ’n seldsame hartsiekte, aritmogeniese displasie van die regterhartkamer. Dié siekte veroorsaak dat die hartspier geleidelik in vetweefsel verander. Gevolglik kan die hart nie klop nie en kan ’n noodlottige hartaanval uit die bloute plaasvind.

Melanie, nou 24, het in 1998 siek geword toe sy net 13 jaar oud was. Reekse toetse het gewys sy het inderdaad die gevreesde siekte. Omdat dit ’n taamlik skaars toestand is, was dit nie maklik om die regte behandeling te kies nie. ’n Opehart-operasie sou te gevaarlik wees en daar is besluit op ’n prosedure wat ’n Glenn-aftakking genoem word.

’n Groot aar is met die regter-longslagaar verbind sodat bloed buite om die misvormde regterkamers van die hart gelei is om suurstof direk aan die longe te voorsien.

Melanie kon uiteindelik haar lewe voortsit. Vir ’n rukkie, ten minste. In haar eerste jaar op universiteit, kort ná haar 18de verjaardag, het haar gesondheid drasties agteruitgegaan. Teen die einde van 2004, nadat sy binne drie jaar 80 hartskokke moes kry om haar hart weer in ritme te dwing, is sy as noodpasiënt op die register vir orgaanoorplantings geplaas.

Op 5 Januarie 2007 het die oproep waarop hulle so vuriglik gehoop het, gekom. ’n Hart was beskikbaar. Melanie se oomblik het aangebreek. Ses uur later het sy ’n nege ure lange oorplantingsoperasie ondergaan wat suksesvol afgeloop het, hoewel dit deur ’n massiewe bloedklont in die hoofslagaar gekompliseer is.Die operasie was ’n sukses en Melanie het gefloreer, maar die Girds se problem was nie verby nie.

Trevor junior het dieselfde simptome begin toon – ook op 13. In ’n wanhopige poging om hom aan die lewe te hou tot ’n geskikte skenkerhart gevind kon word, het hy die jongste mens in die land geword wat ’n biventrikulêre pasaangeër (’n pasaangeër wat die hartslag aan die linker- sowel as die regterkant van die hart aanhelp) ontvang het toe hy net 15 jaar oud was.

Trevor se hart het steeds vinnig agteruitgegaan en sy toestand het kritiek geword. Hy is na die bopunt van die skenkerlys geskuif. Maar steeds het dit ’n folterende 13 maande geduur voor ’n skenkerhart beskikbaar geword het – op 22 Januarie verlede jaar.

Die Girds stem saam: Die emosioneelste ervarings in die kinders se reis na ’n nuwe lewe was die afskeid wat elke keer by die teateringang moes plaasvind. “Ek was vol hoop, maar baie bang,” onthou Melanie. “Ek het vir die geskenk van lewe gebid. Die skenker van my hart het dit aan my gegee. “Hy het nie gesterf sodat ek kon lewe nie. Hy het gesterf, en toe het ek geleef .”

Ster van die baan

Nkanyesi ‘Star’ Biyela (21)

5 km-stapwedloop, 5 km-padwedloop, kegelbal, hamergooi

ses jaar ná sy nieroorplanting

Op ’n herfsmiddag in 1999 het die 11-jarige Nkanyesi Biyela van Nkandla, die tuisdorp in KwaZulu-Natal wat hy met pres. Jacob Zuma deel, soos gewoonlik huis toe gegaan ná sy sokkeroefening. Maar anders as gewoonlik het die lang, skraal seun erg mank geloop en van grieperigheid gekla. Daar was duidelik groot fout.

Net ’n maand later was Star, soos Nkanyesi se familie en vriende hom noem, ernstig siek. Maar omdat hy op die platteland gebly het en sy ouers bitter arm was, moes die sieklike seun staatmaak op karig toegeruste klinieke.

Star, nou 21, het aan akute nierontsteking gely, iets wat gewoonlik op ’n aansteeklike siekte volg. Dit kom meestal by kinders voor, oorwegend by seuns. Die simptome kan ontstaan as die siekte vererger, maar omdat nierontsteking by omtrent 60 persent van volwassenes en 90 persent van kinders opklaar, kom en gaan dit vir baie mense met min rede tot kommer. As die siekte nie opklaar nie, kan gevorderde nierversaking ontwikkel. Dit is wat met Star gebeur het.

“Ek moes elke week vir dialise na ’n hospitaal in ’n groot dorp of stad gaan omdat my een nier glad nie gewerk het nie,” vertel hy. Dit was onprakties om hiermee vol te hou en Star en sy ouer broer is Johannesburg toe gestuur sodat hy naby die Charlotte Maxeke-hospitaal (voorheen die Johannesburgse Hospitaal) kon wees. Kort nadat hulle daar aangekom het, het Star se ander nier ook ingegee en moes hy elke dag dialise ontvang terwyl hy op ’n skenkernier gewag het.

“Ek was baie bang,” sê Star. “Ek het altyd siek gevoel en vas geglo elke dag sou my laaste wees.” Maar in 2003 toe hy 15 was, het Star sy skenkernier gekry. Nadat hy aangesterk het, kon die seun wat met sy sport volgehou het selfs toe hy siek was, nie wag om weer te begin speel nie. “Ek is dol oor sokker, maar die dokters het gesê ek moet kontaksport los. Ek het omtrent elke ander sportsoort beproef, maar hardloop is my gunsteling.”

Star neem vanjaar aan sy tweede Wêreld-oorplantingspele deel. Voorheen het hy silwer vir die stapwedloop gewen en brons vir die padwedloop en kegelbal. “Vanjaar bring ek minstens twee goues huis toe,” sê hy selfversekerd.

Om die noodlot te klop

Koenraad Pretorius (18)

50 m-vryslag, 50 m-rugslag, gewigstoot, hamergooi

14 jaar ná sy leweroorplanting

Toe Koenie en Karin Pretorius se pasgebore seun Koenraad kort ná sy geboorte in Mei 1991 geelsug kry, was hulle nie te bekommerd nie. Die meeste babas kry immers kort ná geboorte geelsug. Maar toe klein Koenraad nie die siekte kon afskud nie, het Karin begin bekommerd raak. Des te meer toe hy simptome van lewersiekte begin toon het – die vel en wit van sy oë het vergeel en sy maag, bene en voete het opgeswel.

Ná ’n strawwe stel toetse is ’n tekort aan alfa 1-antitripsien, ’n soort proteïen, gediagnoseer. Dis ’n oorerflike probleem wat by Koenraad akute lewerversaking veroorsaak het. Sy hoop op herstel het droewig gelyk. “Ons het regtig gedink ons gaan ons seuntjie verloor,” sê Karin. “Hy was baie siek en die dokters het nie gedink hy sou oorleef nie, tensy hy ’n leweroorplanting kon kry.”

Tog was die dokters effens huiwerig oor dié desperate maatreël. Leweroorplantings is die heel moeilikste oorplantingsoperasie, en ’n nóg groter uitdaging in baie jong kinders. Op die ou end het die Pretoriusse geen keuse gehad nie. Sonder ’n oorplanting sou hul baba beslis sterf.

Die dag van die oorplanting, 10 Junie 1995, kort voor Koenraad se vierde verjaardag, is vir altyd in Karin se gees gegraveer. Sy onthou die opgeswelde, geel lyfie van haar seuntjie daar op die bed terwyl hy by die teater ingestoot is. Sy onthou die smartlike ure wat sy gewag het op nuus dat Koenraad dit oorleef het.

“Dit was hartverskeurend om my baba daar te sien lê, byna verlore tussen die buise en monitors,” sê sy. “En hoewel die oorplanting suksesvol was, was die 40 dae wat daarop gevolg het nog stresvoller. Ons het met ingehoue asem gewag om te sien of sy liggaam die skenkerlewer sou verwerp of nie. En toe hy beter begin word het, moes hy van nuts af leer loop.”

Maar die wagtyd was die moeite werd. Sedert die oorplanting 14 jaar gelede het Koenraad ’n gesonde, frisgeboude 18-jarige geword. Die aantreklike leerder in graad 12 aan die Hoër Seunskool Paarl is heeltemal dol oor sport. Hy is ’n ywerige swemmer en veldatleet wat twee jaar gelede aan die Wêreld-oorplantingspele in Thailand deelgeneem het – destyds op 16 een van die jongste deelnemers ter wêreld.

Daar in Bangkok het hy goue medaljes in die 50 m-vryslag- en –rugslagnommers verower – ’n ekstra wonderlike prestasie as jy sy rekords in die vryslag en rugslag vergelyk met “normale” tye vir seniors. Die huidige wêreldrekordtyd vir rugslag is 24,27 sekondes; Koenraad se tyd was 28,82 sekondes.

“Ek het alle waarskynlikhede geklop toe ek as kampioen in daardie nommers gekroon is,” sê Koenraad trots. “En vanjaar gaan ek my wêreldrekords verdedig so al wat ek kan. Ek gaan meer goud terugbring as laas keer – asook die wêreldrekords!”

Orgaanskenking wat jy moet weet

  • Dis moontlik om een nier en ’n gedeelte van die lewer te skenk terwyl jy leef.
  • Soliede organe soos die hart, longe, lewer, niere en pankreas, sowel as weefsel soos die horingvlies, vel, been en hartkleppe kan net verkry word van iemand wat breindood is.
  • Mense wat organe ontvang en nie tot ’n mediese fonds behoort nie, gaan na ’n staatshospitaal en betaal wat hulle ook al kan bekostig.
  • Ontvangers of hul mediese fonds hoef net die koste van die chirurgie en oorplanting te betaal. Die regering dek alle mediese uitgawes aan skenkerskant van die oomblik dat die gesin verlof gegee het vir die verwydering van die organe of weefsel nadat die skenker breindood verklaar is.
  • Die Stigting vir Orgaanskenking het ’n fonds vir noodvlugte wat die vervoer van organe van afgeleë gebiede af dek.
  • Pasiënte in privaat hospitale ontvangnie voorkeurbehandeling nie. Die organeis bestem vir die pasiënt wat die geskiksteontvanger is, wat verseker dat dieoorplanting ’n groter kans op sukses het.Die ontvanger moet min of meer ewegroot as die skenker wees en dieselfdebloedgroep deel.

Statistieke en feite ooroorplantings

  • Meer as 3 500 Suid-Afrikaners wag op skenkerorgane. Op enige gegewe oomblik is minstens 1 500 mense op die kritieke waglys vir die oorplanting van soliede organe.
  • Die aantal oorplantings en beskikbare skenkerorgane neem af. Verlede jaar is slegs 631 oorplantings van organe en horingvliese in Suid-Afrika gedoen, vergeleke met 1 628 in 2002. Van die oorplantings verlede jaar was 301 die oorplanting van soliede organe – harte (22), hart/long (1), longe (8), lewers (29), nier/pankreas (4), nier/lewer (1) en niere (236). Die res (330) was oorplantings van horingvliese.
  • Minstens 10 mense in die eindfase van nierversaking word weekliks huis toe gestuur om te sterf omdat geen niere vir oorplanting beskikbaar is nie.
  • Meer as 30 000 mense wag op horingvliesoorplantings. Weens die agterstand en omdat baie min horingvliese in Suid-Afrika geskenk word, moet horingvliese uit Amerika ingevoer word teen ’n koste van sowat R7 500 elk.
  • Die aantal orgaanskenkings het sedert 2000 voortdurend afgeneem. Tog is dit ’n wêreldwye probleem wat nie tot Suid- Afrika beperk is nie. Dit word deur ’n aantal probleme veroorsaak – van ’n gebrek aan bewustheid tot ’n toename in siektes soos kanker, tering en MIV/vigs, wat beteken mense mag nie skenk nie.