Blomkool – ’n kruisblommige groentesoort van dieselfde plantfamilie as broccoli, krulkool, kopkool en blaargroente – bevat ’n verskeidenheid vitamiene, minerale en plantaardige voedingstowwe wat skadelike toksiene kan help neutraliseer. Maar daar is ’n splinternuwe rede waarom mense nie hierdie groentesoort behoort te onderskat nie.

In ’n studie gepubliseer in ’n Europese vaktydskrif oor kanker, word nog redes genoem waarom ons hierdie veselryke juweel moet voorsit. Die studie is in 2015 van stapel gestuur en die navorsers het ’n verband gevind tussen die inname van vrugte en wit groentesoorte, naamlik blomkool, en ’n laer risiko vir maagkanker.

Die ontleders het, nadat hulle meer as 32 000 maagkankergevalle ontleed en hul diëte bepaal het, ontdek natrium en alkohol, veral bier en sterk drank, is faktore in die dieet wat die hoogste risiko veroorsaak.

Toe het hulle vasgestel voedsel wat ryk is aan vitamien C is geneig om ’n “beskermende uitwerking” te hê ten opsigte van maagkanker. Die voedselsoorte was hoofsaaklik vrugte en wit groentesoorte, wat aartappels, andyvie, uie en ons nommer-een-groentesoort, blomkool, insluit.

Watter gesondheidsvoordele hou blomkool in?

Ongeveer 100 g rou blomkool verskaf 105 kJ en dit het ’n lae vet- en koolhidraatinhoud. Dit is ook ’n uitstekende bron van vitamien C en ’n baie goeie bron van mangaan. Om hierdie gesondheidsvoordele te geniet, behoort jy dus gereeld blomkool in te sluit as een van die kruisblommige groentesoorte wat jy eet.

Jy behoort minstens twee tot drie keer per week kruisblommige groentesoorte te eet. Die porsiegroottes moet minstens 1½ koppie wees.

Waarna moet jy oplet wanneer jy blomkool koop?

Wees op die uitkyk na ’n skoon, roomwit, kompakte, stywe kop en die trossies moenie afsonderlik wees nie. Vermy blomkool met merke of wat dof van kleur is, sowel as dié met klein blommetjies. Koppe met baie dik blare buiteom word beter beskerm en sal varser wees. Berg blomkool in ’n papier- of plastieksak in die koelkas, waar dit tot ’n week eetbaar sal bly.

Blomkool by die ete

Soos alle groentesoorte, moet jy kool beslis nie te lank kook nie. Sny die koolblommetjies in kwarte voor jy dit kook en voeg ’n knippie borrie by vir ekstra woema – pleks van om die meer tradisionele metodes van kook of stoom te gebruik, wat geneig is om die groente smaakloos te laat. Of blits eenvoudig die blommetjies ’n paar sekondes in die voedselverwerker vir bykos met min koolhidrate. ’n Goeie plaasvervanger vir rys in kerrie of vir koeskoes.

© Cover Media

Ander stories op Huisgenoot

Omstrede swemvideo het ouers warm onder die kraag

Ontstoke ma skryf ope brief aan skoonma’s

Hierdie gr. 2-wiskundevraag slaan almal dronk – kan jy dit oplos?

Hier is die geheim om gewig meer effektief af te skud en boonop af te hou

‘Hulle gil, skree en baklei in hul slaap!’: Kenners gee raad as jou geliefdes aan vreesaanvalle snags ly