Wat is dan lekkerder as ’n romantiese ete vir twee in ’n gesellige restaurant? Goeie kos en voortreflike wyn by flonkerende kerslig? Ja, asseblief!

Maar nou het wetenskaplikes vasgestel as jy die rolletjies wil afskud, is dit beter om ’n goed verligte eetplek te kies, want dis baie beter vir jou middellyn.

Amerikaanse wetenskaplikes het bevind mense wat in ’n helder verligte vertrek eet, is 16 tot 24 persent meer geneig om gesonde kos te kies.

Die medeskrywers van die studie, wat in ’n tydskrif vir marknavorsing gaan verskyn, was akademici van die Universiteit van Suid-Florida, Staatsuniversiteit van Portland en Cornell-universiteit asook die Carlson Rezidor-Hotelgroep.

Die span het 160 eters by vier gewone kettingrestaurante ondersoek om tot hul slotsom te kom. Die deelnemers is in twee groepe verdeel: Die helfte het in beter verligte vertrekke geëet en ook minder ryk voedselsoorte gekies – soos gebakte vis en groente – pleks van gebraaide kossoorte.

Ook het die studie getoon dié wat in swakker verligte vertrekke geëet het, het 39 persent meer kilojoules bestel.

“Ons voel meer op en wakker in helder verligte vertrekke; daarom is ons geneig om gesonder en beter besluite te neem,” het dr. Dipayan Biswas van die Universiteit van Suid-Florida verduidelik.

Opvolgstudies wat 700 studente betrek het, het hierdie bevindings gesteun. Die navorsers het bevind by die gebruik van ’n koffie-plasebo, of deur deelnemers daarop attent te maak om op en wakker te wees, het mense wat in swakker verligte eetplekke geëet het, ook gesonder keuses gemaak.

Die medeskrywer dr. Brian Wansink, van Cornell, sê dit hou nie net slegte nuus in vir romantiese restaurante nie.

“Gedempte lig is nie net sleg nie. Ten spyte daarvan dat jy minder gesonde kos bestel, eet jy wel stadiger en minder, en jy geniet jou kos meer,” het hy gesê. Hy meen die beste raad om swak koskeuses te vermy, is om te sorg dat jy op en wakker voel.

© Cover Media

Ander stories op Huisgenoot

Omstrede swemvideo het ouers warm onder die kraag

Ontstoke ma skryf ope brief aan skoonma’s

Hierdie gr. 2-wiskundevraag slaan almal dronk – kan jy dit oplos?

Hier is die geheim om gewig meer effektief af te skud en boonop af te hou

‘Hulle gil, skree en baklei in hul slaap!’: Kenners gee raad as jou geliefdes aan vreesaanvalle snags ly