Die gesondheidsvoordele van okkerneute word lankal aangeprys, want die neut is ryk aan proteïene en verskeie dieetkundige minerale, soos mangaan en die B-vitamiene.

Navorsers het nou bevind ’n dieet wat okkerneute insluit, kan lei tot ’n beduidende verhoging in die verskeidenheid bakterieë in die dermkanaal.

In ’n dierestudie, gelei deur dr. Lauri Byerli, is 'n groep rotte vir tot 10 weke ’n dieet gevoer wat die ekwivalent bevat van ongeveer 125 milliliter ('n kwart koppie) gemaalde okkerneute per dag by mense, en aan ander rotte ’n dieet sonder okkerneute. 

Die inname van kilojoules en voedingstowwe was soortgelyk by die twee dieetgroepe.  By die rotte wat ’n okkerneutverrykte dieet ingeneem het, was daar ’n vermeerdering van drie soorte voordelige bakterieë, in teenstelling met dié wat nie okkerneute ingekry het nie.

"Gesondheid van die dermkanaal is verwant aan die algemene gesondheid van die res van die liggaam,” het dr. Byerley gesê.  “Ons studie toon dat okkerneute die dermkanaal verander en dit mag help om te verduidelik waarom die inname van okkerneute ander positiewe gesondheidsvoordele inhou, soos die gesondheid van die hart en die brein.”

Die bioaktiewe samestelling van okkerneute kan faktore wees wat bydra tot die verskaffing van hierdie gesondheidsvoordele.

Dr. Byerley het bygevoeg dat die resultate van hierdie studie lig werp op ’n nuwe manier waarop okkerneute die algemene gesondheid kan baat, maar daar sal verdere navorsing gedoen moet word om te sien of die voordele ook met mense verbind kan word.

"Die gesondheid van die dermkanaal is ’n opkomende navorsingsarea, maar ons kom agter dat ’n groter verskeidenheid van bakterieë moontlik geassosieer kan word met beter gesondheidsuitkomste, terwyl ’n kleiner verskeidenheid gekoppel word aan siektes soos vetsug en prikkelbarederm-sindroom,” het sy bygevoeg.

Die navorsing is deur die California Walnut Commission (CWC) en die American Institute for Cancer Research befonds.