As jy geneig is om altyd die ergste te verwag, is dit hoog tyd dat jy jou gesindheid verander, aangesien die deskundiges beweer dat positiewe denke kan help om jou lewe te verleng.

In 'n onlangse studie word beweer dat, as jy met 'n glimlag op jou gesig rondloop, jy nie so maklik 'n hartaanval sal kry, 'n operasie sal moet ondergaan of selfs voortydig sterf nie.

Wetenskaplikes by die Londense Onderwyskollege het tot bogenoemde gevolgtrekking gekom nadat hulle 369 mense bestudeer het wat 'n hartaanval gehad of aan angina gely het. By die pessimistiese pasiënte was die kans om binne die volgende vier jaar 'n meer ernstige siektetoestand te ontwikkel, dubbel so groot as by die meer optimistiese pasiënte. Die meer ernstige siektetoestande het hewige hartaanvalle, hartoperasies of selfs sterftes ingesluit.

Navorsers het die geestelike ingesteldheid van deelnemers wat met onstabiele angina en hartaanvalle in die hospitaal opgeneem is,bestudeer en hulle oor die daaropvolgende 46 maande gemonitor. Professor Andrew Steptoe en sy span by die Britse Hartstigting glo dat die sleutel tot hul bevindings aan optimisme gekoppel kan word. In die studie het die mees pessimistiese pasiënte 'n jaar ná hulle in die hospitaal opgeneem is, nog steeds gerook.

'In 'n onlangse studie word beweer dat, as jy met 'n glimlag op jou gesig rondloop, jy nie so maklik 'n hartaanval sal kry, 'n operasie sal moet ondergaan of selfs voortydig sterf nie.'

Ná 'n jaar het 85 persent van die optimistiese rokers egter die gewoonte gestaak. Optimistiese pasiënte het, ná angina of 'n hartaanval, oor die algemeen ook beter na hul gesondheid gekyk deur byvoorbeeld hul vrugte- en groente-inname te verhoog – 40 persent van dié met 'n sonnige geaardheid het 'n jaar later vyf porsies per dag geëet. In vergelyking hiermee het dit net by 20 persent van die pessimistiese pasiënte voorgekom.

"Ons navorsing toon dat optimiste meer geneig is om raad te aanvaar rakende veranderinge in hul lewensstyl, soos om op te hou met rook en meer gesond te eet – die gevolg hiervan is dat die pasiënt 'n beter kans op herstel staan nadat hy aan onstabiele angina gely het of 'n hartaanval gehad het,” het Professor Steptoe, hoofskrywer van die navorsingstuk, gesê.

"Ons bevindings kan gebruik word om pessimistiese pasiënte te identifiseer en hulle aan te moedig om die nodige veranderinge aan hul lewensstyl aan te bring, want dit kan uiteindelik tot beter gesondheid lei.”

As 'n mens aan 'n ernstige hartsiekte ly, kan dit 'n aansienlike uitwerking op jou geestesingesteldheid uitoefen. Raadpleeg dus jou huisdokter as jy voor 'n soortgelyke vraagstuk te staan kom.

Selfs al is jy tans blakend gesond, is 'n positiewe uitkyk op die lewe baie voordelig. Al staan jy selfs net 'n bietjie meer regop en plak jy 'n glimlag op jou gesig, kan jou brein gekul word om te dink dat jy goed voel. Dit sal jou ook meer bereikbaar laat lyk en jou help om bande te sluit en met ander mense te skakel.

'n Topwenk is om altyd die eerste vyf minute van enige situasie die beste moontlike weergawe van jouself te wees. As jy dus by die werk instoom met 'n hol kol op jou maag of jy kom moeg huis toe ná 'n lang dag, haal diep asem en dwing jouself vir ten minste vyf minute om gelukkig te lyk. Die positiwiteit sal oorneem en enige negatiewe gevoelens sal verdwyn.

© Cover Media