Vrugte en groente is noodsaaklik vir ’n gesonde liggaam en daar is ook kosse wat uitstekend is wanneer jy siek voel, soos sop en lemoensap. Maar gestel jy trek jou neus daarvoor op?

Jogurt

Dié een het ons nogal verbaas – daar is immers al gemaan om weg te bly van suiwelprodukte wanneer jy verkoue het. Maar moenie dié raad blindweg volg nie, want jogurt bevat probiotika. Dis gesonde bakterieë wat jou spysvertering in ’n goeie toestand hou. As jy jogurt met lewende aktiewe kulture soek en regtig die voordele wil sien, moet jy daagliks ’n houertjie eet.

Knoffel

Die voordelige bestanddeel is die allisien wat in knoffel voorkom – dit help jou liggaam teen ontsteking en bakterieë baklei. Daar is in navorsing in Engeland bevind mense wat knoffelaftreksel oor 12 weke geëet het, se kans om verkoue te kry, is met twee derdes verminder, volgens prevention.com.

Tee

Die Britte doen beslis iets reg met hul voorliefde vir tee drink. Navorsers aan die Harvard-universiteit het gekyk na mense wat twee weke lank vyf koppies swart tee per dag gedrink het en bevind die deel van hul bloed wat teen virusse baklei, is 10 keer sterker. As jy nie hou van swarttee nie, kan jy ook die voordele uit groen variëteite asook kafeïenvrye soorte kry.

Rooi soetrissies

Ons weet almal vitamien C help teen verkoue; dit sal dit dalk nie heeltemal keer nie, maar as jy jou inname daarvan verhoog wanneer jy siek is, kan dit jou gouer gesond maak. As jy dus nie gek is oor lemoensap is nie, kan jy dit oorweeg om meer rooi soetrissies te eet. Een daarvan bevat dubbel die daaglikse aanbevole inname en om die meeste voordele daaruit te kry, moet jy dit rou eet (spoel dit eers af).

Patat

Dié groentesoort bevat die antioksidant beta-karoteen wat jou liggaam teen vrye radikale help baklei. Die liggaam kan dit ook in vitamien A omskep, wat noodsaaklik is vir ’n gesonde vel.

© Cover Media