Dis seker nie verbasend nie; rou en gaar is dit ewe lekker, en bowendien hou dit talle gesondheidsvoordele in.

Volgens ’n onlangse studie bevat broccoli ’n samestelling genaamd sulforafaan. Dit help bloedsuikervlakke verlaag en help dus om diabetes te beheer. 

Navorsers het 12 weke lank 97 vetsugtige pasiënte met tipe 2-diabetes bestudeer. Van hulle moes broccoli insluit by hul dieet. Dié groep se vastende glukosevlakke het dramaties gedaal vergeleke met dié wat nie broccoli geëet het nie.

Sulforafaan word ook gevind in ander kruisblommige groentesoorte, soos Brusselse spruite en blomkool. 

Talle diabete kan baat vind daarby om meer broccoli te eet, want van die medikasie wat suikersiektelyers moet neem, kan die niere beskadig. 

“Sulforafaan het baie min newe-uitwerkings en kan byvoorbeeld maklik as ’n skommel of drankie verskaf word. Dit kan ’n belangrike toevoeging wees tot die bestaande behandelingskeuses vir tipe 2-diabete,” het prof. Anders Rosengren, van die Lund-universiteit se diabetessentrum in Swede, gesê.

“Ons gaan nou aan die werk spring om broccoli-spruit-ekstrak as doelmatige voedsel vir produksie beskikbaar te stel.”

Anders, wat beklemtoon ’n gesonde dieet en ’n aktiewe leefstyl is baie belangrik in die voorkoming van suikersiekte, sê volgens hierdie studie is sulforafaan as die mees belowende samestelling.

Die deskundiges het dit eers op diabetiese rotte getoets. Byna 4 000 samestellings is ondersoek. Eindelik is bevind sulforafaan verlig die simptome die meeste. Dit het ook die vertolking van lewergene in die knaagdiere verander.

Die resultate van die studie is in die tydskrif Science Translational Medicine gepubliseer.