Academici by die Ohio-staatsuniversiteit het ’n studie gedoen oor die maniere waarop voedingsingrypings die risiko vir velkankersoorte kan verander.

Hulle het oor 35 weke daagliks ’n dieet van 10 persent tamatiepoeier aan muismannetjies gevoer en hulle daarna aan ultravioletlig (UV) blootgestel. Die knaagdiere het gemiddeld ’n afname van 50 persent in velkankergewasse getoon, vergeleke met dié wat nie die gedroogde tamaties ingekry het nie.

Jessica Cooperstone, medeskrywer van die studie, se teorie is dat die verwantskap tussen tamaties en kanker verband hou met karotenoïede in die dieet. Sy glo hierdie pigmenterende samestellings wat aan tamaties hul kleur gee, beskerm moontlik die vel teen skade wat deur UV-lig aangerig word.

“Likopeen, die primêre karotenoïed in tamaties, is die doeltreffendste antioksidant van hierdie pigmente,” het sy bevind. “Maar as jy likopeen uit ’n tamatievrug met ’n sintetiese aanvulling vergelyk, lyk dit asof tamaties meer doeltreffend is by die voorkoming van rooiheid ná blootstelling aan UV-lig, wat aandui dat ander samestellings in tamaties moontlik ook ’n rol speel.”

Vorige toetse op mense het aangedui dat ’n mens sonbrand kan verlig as jy ’n ruk lank tamatiepasta eet. Dit is moontlik te danke aan karotenoïede in die plante wat, nadat dit geëet is, in ’n mens se vel agtergelaat word, waar hulle dit moontlik teen die aanslag van UV-lig beskerm.

Daar was geen merkbare verskil in die getal gewasse by muiswyfies in die studie nie. Vorige ondersoeke het aangedui dat muismannetjies vroeër as wyfies gewasse ontwikkel ná blootstelling aan UV en dat die gewasse meer talryk, groter en aggressiewer is. 

“Hierdie studie het aan ons gewys dat ons die geslag in berekening moet bring wanneer ons verskillende voorkomende strategieë oorweeg,” het Tatiana Oberyszyn, die senior skrywer van die studie, gesê. “Wat by mans werk, werk dalk nie net so goed by vroue nie, en omgekeerd.”

Cooperstone ondersoek tans ander samestellings, benewens likopeen, in tamaties wat gesondheidsvoordele kan inhou.

Die volledige studiestuk is in die tydskrif Scientific Reports gepubliseer.