’N PAAR jaar gelede het ek geglo ’n gebalanseerde lewe beteken ek moet ewe veel en met dieselfde intensiteit oefening doen, mediteer, speel en werk. Ek het “balans” nagejaag en myself net so hard gedryf om “gebalanseerd” te lewe as om te werk.

“Natuurlik lewe ek gebalanseerd,” het ek geredeneer. “Ek sien om na myself terwyl ek 12 uur per dag werk, elke dag van die week oefen, vroeg opstaan om te mediteer, laat wakker bly om spertye te haal en gou vir ’n massering gaan voor ek terugjaag om aandag te skenk aan die 1 001 verantwoordelikhede wat ek het. Wat kan ek nóg doen?”

Hoe meer ek probeer het om “welstand” by my koorsagtige rooster in te pas, hoe minder energie het ek gehad. Die dinge wat my voorheen energie gegee het, het dreinerende sleurtake begin geword.

Wat ek geleer het, is dat balans nie net beteken dat ek dinge op my doenlysie moet plaas wat vir my goed is nie (soos meditasie en joga), maar ook – en belangriker – dat ek ewe veel dinge van die lysie moet afhaal. Dit kan ’n aktiwiteit wees wat dringend lyk maar nie belangrik is nie, of dit kan beteken dat ek iets moet laat staan, of albei. So ’n gewoonte laat toe dat Nie-Doen-Nie net so belangrik word as Doen.

Dit was ’n moeilike kopskuif want ek wou alles hê, maar toe ek ontleed wat “alles” is, kom ek agter dis eintlik ’n gevoel van tevredenheid en vervulling waarna ek op soek was. En al die Doen het net uitgeloop op spanning, uitputting en frustrasie – en ’n lyf wat uitroep: GENOEG!

Ek werk nou daaraan om meer in die oomblik en rustiger te lewe, en dinge meer dikwels toe te laat om self te ontvou. Ek probeer dinge minder voortdwing deur my eie wilskrag minder te gebruik, of ten minste op ’n meer oordeelkundige manier. Dit beteken ek moet my behoefte om in beheer te wees, laat staan. Ek leer nou om te vertrou dat as ek ruimte vir Nie-Doen-Nie in my lewe skep, ek meer kreatief sal wees en so doeltreffender en produktiewer.

Verstommend genoeg het ek nou meer tyd. Ek het agtergekom dat sodra ek dinge begin dwing het, het ek gevries, baie meer koffie gedrink en suiwer op adrenalien staatgemaak om spertye te haal. Ná dekades van so funksioneer is dit geen wonder nie dat my adrenalienkliere leeggeloop en teruggeval het op die oorproduksie van die streshormoon kortisol. Hierdie nuwe manier van Doen/Nie-Doen-Nie laat my toe om ’n voller lewe met groter gemak te leef eerder as om myself tot uitbranding te dryf.

UITNODIGING Watter drie klein veranderinge kan jy maak om meer te vertrou en minder te beheer? Watter drie klein dingetjies kan jy laat staan en nie vandag doen nie?

’n Woordjie aan julle almal wat soos ek geneig is om te streng met julleself te wees: Dis ’n nuwe manier en dit verg oefening. Verwag om soms te misluk. Ek kyk uit vir boodskappe van my liggaam dat ek besig is om terug te val – in my geval is dit wanneer daar spanning in my nek en skouers is. Dan probeer ek volgende keer net ’n beter manier. Onthou, dit gaan oor sagter en meer bedaard lewe, nie daaroor om dinge volmaak te doen nie.

- Kerstin Waddell

Kerstin mug shot Kerstin Waddell is ’n Martha Beck-gesertifiseerde lewensafrigter van Kaapstad. Gaan gerus na haar webtuiste.

Lees Kerstin se vorige blog vir Huisgenoot:

Loop jy die gevaar om uit te brand?