Medici het geraam dat Angelina Jolie ’n 87 persent kans op borskanker het weens haar “afwykende” BRCA1-geen; daarom het die aktrise, wat haar ma aan kanker afgestaan het, besluit om ’n dubbele mastektomie te ondergaan om haar risiko te verminder.

Nou is Angelina se kans op borskanker net 5.

Die deursnee-vrou se kans op borskanker is 12 tot 13 persent. As hulle ’n abnormale BCRA1- of BCRA2-geen het, neem die kans toe tot 80 persent.

Maar wat is die BRCA-gene? Moet jy bekommerd wees?

Almal dra die gene BRCA1 (borskankergeen een) en BRCA2 (borskankergeen twee). Hierdie gene herstek selskade en laat borsselle normaal groei. Dit is eers wanneer daar ’n abnormaliteit of mutasie in die gene is, wat veroorsaak dat die gene nie behoorlike werk nie, dat ’n vrou se kans op borskanker toeneem.

Die mutasies of abnormaliteite word gewoonlik van geslag tot geslag oorgedra. Maar die meeste mense wat borskanker ontwikkel, het nie ’n abnormale borskankergeen geërf nie en het geen familiegeskiedenis van die siekte nie.

Volgens breastcancer.org het jy ’n aansienlik groter kans om ’n abnormale borskankergeen te hê as:

  • Jy bloedfamilie (oumas, ma, susters, tantes aan jou pa of ma se kant) het by wie borskanker voor 50 gediagnoseer is.
  • Daar bors- sowel as eierstokkanker in jou familie is, veral by ’n enkele individu.
  • Daar ander klierverwante kanker soos pankreas-, kolon- en skildklierkanker in jou familie is.
  • Vroue in jou familie kanker in albei borste gehad het.
  • Jy van Ashkenazi-Joodse (Oos-Europese) afkoms is.
  • Jy Afro-Amerikaans is en borskanker op 35 jaar of jonger by jou gediagnoseer is.
  • ’n Man in jou familie borskanker gehad het.

Vir nog inligting, besoek breastcancer.org.

- Kirstin Buick

Bronne: breastcancer.org, nytimes.com