Akademici van die Universiteit van Auckland in Nieu-Seeland het ontdek dat been ’n “geheue” van die uitwerking van oefening behou lank nadat die oefening gestaak is, en hierdie beengeheue hou aan om die manier waarop die liggaam ’n hoëvetdieet verwerk, te verander.

Die navorsingspan het die beengesondheid en metabolisme van rotte in verskillende dieet- en oefenomstandighede vergelyk, met die klem op die boodskappermolekules wat die aktiwiteitseine van gene in beenmurg heen en weer stuur.

Die rotte het óf ’n hoëvetdieet en ook ’n wiel vir ekstra oefening in hul hok gekry óf ’n hoëvetdieet sónder ’n wiel óf ’n gewone dieet en geen wiel nie. By die rotte wat ’n hoëvetdieet sowel as ’n oefenwiel gekry het, het die vroeë bykomende fisieke aktiwiteit veroorsaak dat inflammasiegekoppelde gene omgekeer word.

“Iets wat merkwaardig is, is dat hierdie veranderinge steeds teenwoordig was lank nadat die rotte opgehou het met oefen – tot in hul middeljare,” sê dr. Justin O’Sullivan.

“Die beenmurg het ’n ‘geheue’ gedra van die uitwerking van die oefening.  Dis die eerste bewys van ’n langdurige uitwerking van oefening ná puberteit.  Die rotte het steeds vet geword, maar daardie ekstra oefening vroeër in hul lewe het hulle as’t ware geprogrammeer sodat hulle, hoewel hulle gewig aangesit het, nie dieselfde negatiewe uitwerkings getoon het wat algemeen by ’n  hoëvetdieet voorkom nie.”

Dit is bekend dat hoëvetdiëte die aktiwiteit verhoog van ander gene wat inflammasie veroorsaak. Oefening het boonop ook die manier waarop die rotte se bene energie uit kos metaboliseer, verander. Op sy beurt het dit die roete wat energie deur die liggaam volg in reaksie op ’n hoëvetdieet ook verander.

Die navorsers hoop die bevindings kan wetenskaplikes help om te verstaan waarom sommige vetsugtige mense nie diabetes ontwikkel nie, hoewel vetsug en diabetes dikwels met mekaar verbind word. Hulle is nou van plan om die eksperiment te herhaal om te kyk of die veranderinge tot aan die einde van ’n mens se lewe aanhou.

Die volledige studie is in Frontiers in Physiology gepubliseer.