Dit is moontlik nie so voor die hand liggend soos wat jy dalk dink nie, dus neem ons jou hier deur ’n paar van die minder bekende oorsake en gee raad oor hoe jy hulle kan oorkom.

Dit is nie ongewoon om vas te klou aan raad wat jy in jou jeug gekry het nie – van “wees versigtig” tot “moet niks doen wat ek nie sou doen nie”. Hoewel hierdie mantras op baie aspekte van die lewe van toepassing is, is dit die beste om jou situasie behoorlik te beoordeel voor jy besluit wat om te doen, eerder as om jou te bekommer en aan die letter vas te klou. As hierdie soort gesegdes jou verhinder om met jou lewe aan te gaan, moet jy hulle begin verander in ’n meer positiewe uitkyk, soos “ek sal nooit weet as ek nie probeer nie”.

"Laat ’n gedagte bly wat dit is: bloot ’n gedagte"

Dieselfde idee geld wanneer jy deur jou eie gedagtes ingeperk word. As jy dieselfde negatiewe gedagte oor en oor in jou kop herhaal, gaan dit uitloop op ’n gevoel van vrees en bekommernis oor iets waaroor jy nie werklik hoef te dink nie.

Byvoorbeeld: As jy op ’n weekaand genooi word vir ’n drankie wetende jy moet die volgende oggend vroeg opstaan, kan jy dit in jou kop kry dat jy gaan verslaap as jy drink en laat wees vir werk.

Maar onthou, dit is net ’n gedagte, nie die werklikheid nie. Stel jou wekker vir vroeër as gewoonlik en stel dit dan vir verskillende tye om seker te maak jy verslaap nie.

Laat ’n gedagte bly wat dit is: bloot ’n gedagte. En moenie toelaat dat dit jou gedrag beïnvloed nie.

Baie rus speel ’n belangrike rol om angs weg te hou. As jy uitgeput voel, kan dit lei tot gevoelens van stres, veral as jy voel jy laat ander mense in die steek. Jou gesondheid en welsyn is van die uiterste belang en as dit beteken dat jy ’n taak die volgende dag moet klaarmaak sodat jy vroeg in die vere kan wees, wel, laat dit so wees.

Volg jou instink as jy moeg voel en wees openlik met mense pleks van bang wees vir wat hulle sal dink. Op stuk van sake, hoe beter jy voel, hoe beter sal jy alle ander dinge in die lewe doen.

Laastens: Dit is belangrik om jouself in ’n positiewe lig te sien. As jy aanhoudend vir jouself sê jy kan iets nie doen nie, sal dit die taak net bemoeilik en jy gaan angstig daaroor voel.

Om jouself ’n hupstoot te gee dink aan wat jy al in die lewe bereik het en kyk watter vaardighede jy geleer of gebruik het. Dit kos net ’n bietjie tere, liefdevolle sorg, en, as jy sukkel, moenie huiwer om ander te vra as dit by jou positiewe hoedanighede kom nie.

© Cover Media