Op VIA (DStv-kanaal 147) se program Die Eet Oorlog pak drie vroue oor ’n tydperk van 30 dae drie verskillende diëte aan om te sien wie die meeste gewig voor die somervakansie kan afskud.

Al drie vroue se eetplanne is volgens hul genetika en DNS uitgewerk om seker te maak hul diëte is doeltreffend vir hulle. Die Eet Oorlog se kenners, dr. Owen Wiese en die dieetkundige Annelie Smith, deel die 15 goed wat jy in gedagte moet hou voor jy dié Desember op ’n gesonde eetplan besluit.

Dr. Owen se vyf kenmerke van ’n goeie eetplan

20160914pm-46

“Wat maak ’n eetplan ’n goeie een? Letterlik duisende verskillende diëte is beskikbaar en elkeen beloof op sy uitsonderlike (en soms bisarre) manier jy sal gewig verloor. Daar is nie ’n enkele stel reëls waaraan ’n eetplan moet voldoen om as “goed” geklassifiseer te word nie. Die kort antwoord is bloot om ’n gebalanseerde eetplan te volg.”

Vra jouself die volgende vyf vrae om te bepaal of jou eetplan ’n goeie een is:

1. Is dit ’n gebalanseerde eetplan?

Dus, is daar iets van al voedselgroepe in: groente, vrugte, graan en proteïen?

2. Is die porsiegrootte realisties?

Om vyf ertjies en twee blokkies kaas te eet, is allesbehalwe ideaal. Onthou, jou liggaam moet steeds kan funksioneer en het brandstof (in die vorm van voedsel) nodig om dit te kan doen.

3. Beloof jou eetplan kits en ongelooflike resultate?

Indien jy volgens jou eetplan 15 kg in net twee weke gaan verloor, is dit allesbehalwe gesond. Gesonde gewigsverlies word beraam op ongeveer 1 kg per week.

4. Is dit ’n baie moeilike of baie maklike eetplan?

As ’n eetplan baie “moeilik” lyk, is dit waarskynlik ongesond. Dieselfde geld vir te maklik. As jy sukkel om deur ’n dag te kom op ’n nuwe dieet, is die kans goed dat jou gesondheid ook gaan swaar trek. Nuwe eetplanne is nie altyd lekker nie (jy gaan jou soetgoed mis), maar om tam en mismoedig te voel, is nie deel van die pakket nie.

5. Gaan hierdie eetplan my baie geld uit die sak jaag?

Ja, dit is waar dat gesond eet jou soms meer kan kos, maar dit is nie nodig om die duurste produkte te koop net omdat dit as “gesond” of “organies” gemerk is nie. Spesiale dieetkosse is dikwels baie duurder as gewonde produkte, en dikwels is dit doodgewone produkte met ’n dieetplakker -- lees ’n bietjie die etikette. Jy sal verbaas wees.

Die belangrikste ding om altyd te onthou: Daar is nie iets soos ’n standaard-eetplan wat vir almal gaan werk nie. Wees versigtig om net die eerste beste eetplan te volg. Kyk met ’n kritiese oog na elkeen. Eintlik gaan baie eetplanne oor geldmaak. Moenie in die strik trap nie.

Het jy ’n vraag vir dr. Owen? Klik hier om met hom te gesels.

Hier is dieetkundige Annelie Smith se 10 vrae om te stel voor jy dieet

_dsc5034a

1. Is die eetplan wat jy oorweeg ’n langtermyn-oplossing? Kan ek daarop “leef” of is dit nie prakties moontlik nie? Dink aan die koste, hoeveelheid kos, beskikbaarheid van die kos en hoe dit by jou gesinslewe sal inpas.

2. Sluit die plan baie voedselgroepe uit? Dit kan dikwels beteken voedingstekorte kan ontstaan.

3. Is die eetplan op feit of fiksie gegrond? Hoe wetenskaplik is die bewyse dat dit wel kan werk vir jou?

4. Word voorsiening gemaak vir individuele verskille, byvoorbeeld gesondheidstoestand, genetiese variasie, geslag, ouderdom en hoeveelheid oefening?

5. Is daar ander produkte soos stimulante, aanvullings of aptytbeheer betrokke?

6. Klink dit te goed om waar te wees? (Dan is dit gewoonlik te goed om waar te wees!)

7. Sluit die plan ’n matige oefenprogram in?

8. Maak seker jy is gesond. Besoek jou dokter om seker te maak jy het nie enige mediese probleme voor jy met ’n dieet begin nie.

9. Het jy sekere tekorte, byvoorbeeld lae vitamien-D-vlakke, ’n ystertekort of vitamien-B-tekort?

10. Wat is jou genetiese risiko? DNS-toetse van DNAlysis Biotechnologies sal jou help om die regte nommerpas-dieet vir jouself te vind.

Het jy ’n vraag vir Annelie? Klik hier om met haar kontak te maak.

die-eet-oorlog

  • Nuwe episodes van Die Eet Oorlog word weeksdae om 17:00 uitgesaai met ’n omnibus op Saterdae van 14:30 tot 17:00 en Sondae van 12:00 tot 14:30.