Britse, Amerikaanse en Singapoerse navorsers het die data bestudeer van drie groot gesondheidsondersoeke in Amerika. Meer as 187 000 verpleegsters en ander beroepsversorgers is betrek by die ondersoeke, wat oor ’n kwarteeu strek.

Die deelnemers se gesondheid is deur die jare gemonitor, en hulle het gereeld vraelyste beantwoord oor hul eetgewoontes, gewig, rookgewoontes, fisieke aktiwiteite en ander leefstyl-aanwysers. Sowat 6,5 persent van die vrywilligers het tydens die studie diabetes ontwikkel.

Mense wat minstens twee porsies per week van sekere heel vrugte, veral bloubessies, druiwe en appels geëet het, het hul risiko vir tipe 2-diabetes met tot 23 persent verminder, vergeleke met diegene wat minder as een porsie per maand geëet het.

“Ons bevindinge verskaf nuwe bewyse dat sekere vrugte besonder voordelig kan wees in die stryd teen diabetes,” sê Qi Sun, ’n assistent-professor in voeding by die Harvardse skool van openbare gesondheid.

Aan die ander kant het diegene wat elke dag een of meer porsies vrugtesap gedrink het, se risiko met tot 21 persent verhoog.

Toe drie porsies vrugtesap per week vervang is met heel vrugte, het die risiko met sewe persent verlaag, hoewel daar nie so ’n groot verskil was toe aarbeie en spanspek as plaasvervangers gebruik is nie.

Die verslag, wat Vrydag in die Britse Mediese Joernaal gepubliseer is, sê die “beduidende” verskil moet steeds verder ondersoek word.

In die artikel word bespiegel selfs al is die voedingswaarde van heel vrugte en vrugtesap dieselfde, lê die verskil daarin dat die een semi-solied is en die ander ’n vloeistof.

“Al is die voedingswaarde dieselfde, beweeg vloeistowwe baie vinniger deur die maag,” sê die verslag. “Vrugtesappe veroorsaak byvoorbeeld vinniger en groter verandering in die vlakke van glukose en insulien as heel vrugte.”

Die ondersoek toon ook bewyse dat sekere soorte vrugte voordeliger is. Bessies en druiwe bevat byvoorbeeld bestanddele genaamd antosianiene, wat die risiko vir hartaanvalle verminder. Die skrywers sê hoe of selfs of dit ook help teen diabetes is steeds onduidelik.

Die ondersoek het gekyk na data van die Nurses’ Health Study, wat van 1984 tot 2008 gedoen is, die Nurses’ Health Study II (1991-2009), en die Health Professionals Follow-Up Study (1986-2008). Tien soorte vrugte is in die vraelys gebruik: druiwe of rosyntjies; perske, pruime of appelkose; pruimedante; piesangs; spanspek; appels of pere; lemoene; pomelo’s; aarbeie; en bloubessies. Die vrugtesappe wat in die vraelys gebruik is was appel, lemoen, pomelo en “ander”. - Sapa