Die meeste van ons het al die een of ander tyd daaraan gely en dit is ’n groot oorsaak van siekteverlof. Dis waarom ’n onlangse studie verwelkom word as een van die belangrikste in jare.

Daar is bevind gereelde oefening is die beste manier om rugpyn hok te slaan – hetsy strek, die opbou van stamina of maklike oefeninge om die spiere te versterk; trouens, mense wat ’n oefenprogram gevolg het, het 35 persent minder oor die pyn gekla toe hulle ’n jaar later getoets is.

By diegene wat ook geleer is hoe om byvoorbeeld swaar voorwerpe veilig op te tel, het 45 persent minder gekla.

Die uitslag was so verstommend dat kundiges beweer het dat, as daar ’n dwelmmiddel was wat dieselfde resultate tot gevolg gehad het, dit wêreldwyd ’n topverkoper sou gewees het.

Pyn in die laer rug raak vier uit vyf mense op die en of ander tyd en die meeste gevalle word veroorsaak deurdat jy jou rug verdraai wanneer jy iets optel sonder dat jy jou knieë behoorlik buig. Hoewel die ongemak gewoonlik binne ’n paar weke opklaar, keer dit soms binne ’n jaar terug.

’n Span van die Universiteit van Sydney het ondersoek ingestel deur die bevindings te bestudeer van 23 ondersoeke waarby 30 000 mense betrokke was. Daar is bevind dat mense wat oefeninge gedoen het, die moontlikheid kon uitskakel dat die pyn binne 12 maande terugkeer.

“Volgens die huidige bewyse blyk dit oefening alleen of tesame met opvoeding, is doeltreffend in die voorkoming van pyn in die laer rug,” het die skrywers van die studie, wat in JAMA Internal Medicine gepubliseer is, verklaar.

“Ander ingrypings, insluitend opvoeding op sigself, ruggordels en binnesole vir skoene, kan blykbaar nie pyn in die laer rug verhoed nie.”

Daar is bevind dat dit ook belangrik is om met ’n sekere mate van oefening vol te hou; dus kan jy nie slegs ’n paar strekoefeninge doen wanneer jy ’n steek voel en dan daarmee volstaan nie.

Dis belangrik dat jy ’n volgehoue poging aanwend om rugoefeninge te doen; as jy twyfel oor wat jou te doen staan, raadpleeg ’n instrukteur in jou gim.

© Cover Media

Lees ook:

Raak só vanjaar by jou eie huis fiks

Dié wondermiddel kan jou vanjaar maer maak