Die bevindings is gister bevestig deur ’n span by die Thomas Jefferson-universiteit in Philadelphia en dit word as ’n mylpaal in die stryd teen die siekte beskou.

Dit is algemeen bekend dat kanker metastaseer (versprei) en die siekte kan dikwels nie behandel word wanneer dit gebeur nie. Dit beteken dit is van lewensbelang dat die molekule gevind word wat die proses aan die gang sit. En navorsers het nou die molekule blootgelê wat die proses by prostaatkanker begin. Dit sal die kern vorm vir navorsing vir ’n geneesmiddel wat kan verhoed dat hierdie soort kanker na ’n sekondêre gebied versprei. Dit sal aanvanklik op prostaatkanker fokus, maar die hoop bestaan dat die ontdekking met verloop van tyd ook met die behandeling van ander kankersoorte sal kan help.

Metastese is gewoonlik die finale fase van kanker en dit kom voor wanneer die DNS van die groeisel of gewas verander en die selle in staat stel om deur die bloed in die liggaam te versprei.

Hoewel daar baie goed gebeur tydens hierdie proses, suggereer die nuwe studie dat daar ’n sleutelmolekule is wat hier van kernbelang is. Dit word kinase genoem en dit help gemuteerde DNS-stringe om weer aan mekaar vas te kleef. Waar dit dus normaalweg sou sterf, help kinase dit om aan die lewe te bly.

Dit is reeds bekend dat hierdie molekule iets te doen het met prostaatkanker, maar die onlangse navorsingstudie het dit ook aan ander metastatiese prosesse gekoppel.

Toetse op muise met voorbeelde van menslike prostaatkanker het getoon die blokkering van die werkwyse van die molekule het die verspreiding daarvan stopgesit.

Daar is ook gekyk na mense met prostaatkanker en ’n skakel is gevind tussen hoë vlakke van kinase en die ontwikkeling van metastase.

Die universiteite in Michigan, Kalifornië, Los Angeles en Columbia, die Mayo Clinic, Cleveland Clinic en GenomeDx was ook by die projek betrokke, en die bevindings is in die tydskrif Cancer Cell-tydskrif gepubliseer.

© Cover Media