Ingewandskanker, ook bekend as kolorektale kanker, tas die kolon en rektum aan. Navorsers het die data van 3 443 pasiënte uit alle dele van die wêreld bestudeer en dinge soos genetiese mutasies en metabolisme van die selle in aanmerking geneem. Hulle het bevind dat 87 persent van die kankers in vier groepe, bekend as ooreenstemmende molekulêre subtipes (OMST), opgeneem kan word. Daar was byvoorbeeld ’n baie sterk kans dat dié in OMST2 geklop kon word, selfs al het dit weer teruggekeer. Dié in OMST4 is dikwels laat gediagnoseer en die kanse was groter dat hul kanker sou versprei.

“In ons studie is vier duidelike ingewandskankersoorte geïdentifiseer, elk met ’n besliste stel genetiese en biologiese eienskappe, en party is aggressiewer en meer geneig om dodelik te wees as die ander,” het dr. Anguraj Sadanandam van die Instituut vir Kankernavorsing in Londen verduidelik.

“Dit kan dokters in staat stel om pasiënte by wie die siekte meer aggressief is, uit te soek en hulle dienooreenkomstig te behandel. Dit kan eindelik lei tot die ontwikkeling van nuwe molekulêr diagnostiese toetse sodat pasiënte volgens hul bepaalde soort ingewandskanker gediagnoseer kan word en dus die mees doeltreffende medikasie vir daardie soort kanker kan ontvang."

Prof. Paul Workman, bedryfshoof by die instituut, het verduidelik dat die afgelope 10 jaar deurslaggewend was wat kankernavorsing betref. Wetenskaplikes het in hierdie tydperk begin besef verskillende soorte gewasse kan uit veelvoudige siektes spruit. Hy hoop die jongste navorsingstuk, wat in die tydskrif Natural Medicine gepubliseer is, sal wetenskaplikes in staat stel om nog inligting bloot te lê oor die gedrag van elke kankersoort en op grond daarvan die korrekte behandeling daarvoor te bepaal.

© Cover Media