Onlangse navorsing het getoon depressie kan ’n ernstige nadelige uitwerking op vroue se werkprestasie hê. Pharma Dynamics, wat farmaseutiese middels verskaf wat op die sentrale senustelsel inwerk, het ’n studie onder 2 800 Suid-Afrikaanse vroue gedoen. Hulle het bevind depressie, tesame met die verantwoordelikheid van kindersorg en burokratiese strukture, is vir dié vroue die vernaamste struikelblokke tot loopbaansukses.

Uit die respondente het 66 persent gesê depressie het hul algehele werkprestasie belemmer en 41 persent het aangedui dat hulle meer geneig was om foute te maak weens ’n tekort aan slaap en swak konsentrasie.

Mariska Fouche, ’n woordvoerder van Pharma Dynamics, sê dis nie net die perfeksioniste en werkslawe wat sukkel nie. “Depressie kom ná wydverspreide afdankings ál meer in Suid-Afrika voor,” sê sy. “Omdat meer vroue oortyd werk en ook nog verantwoordelik is vir die versorging van hul kinders, is dit nie vreemd dat baie van hulle op die randjie van depressie staan nie.”

Byna 40 persent van die vroue in die ondersoek het gesê hulle ly aan depressie; 33 persent het nie in staat gevoel om te werk nie; en 29 persent het in die algemeen kontak met ander kollegas vermy. Een uit 10 vroue het gesê hulle het bedank of is afgedank hoofsaaklik weens die simptome van depressie.

“Behalwe vir die persoonlike stryd moet vroue met depressie ook ander mense se persepsies van depressie, waarvan baie nie waar is nie, hanteer,” vervolg Mariska. “Hoewel die stigma wat daarmee gepaardgaan minder word, speel dit steeds ’n groot rol daarin dat vroue nie hulp soek nie.”

Hoe om met kollegas oor depressie te praat

“As jy jou kollegas vertel jy ly aan depressie, kan jy ’n kombinasie van sosiale stigma en diskriminasie ervaar en dalk nie bevorder word nie, maar dis ook stresvol om die tekens van depressie weg te steek,” waarsku Mariska.

Hier is haar raad vir diegene wat die saak met hul kollegas wil bespreek:

  • Wag vir ’n geskikte tyd om jou ervaring met depressie te bespreek, soos oor die etensuur of by ’n sosiale kantoorgeleentheid, wanneer daar gewoonlik nie oor werk gesels word nie.
  • Moenie jouself oordeel nie; dit bevorder net die stigma.
  • Help vriende, familie en kollegas om depressie beter te verstaan. Beklemtoon dat dit normale gedrag is en verduidelik hoe hulle kan help.
  • Probeer altyd beheer toon en verantwoordelik wees, veral wanneer jy jou ervaring met depressie met kollegas of jou baas bespreek.
  • Neem beheer deur die regte hulp te soek.
  • Omring jouself met positiewe mense wat verstaan wat jy deurmaak en jou ondersteun.

“Een van die beste maniere om depressie te bestuur is om positief en waaksaam oor jou toestand te bly,” voeg Mariska by. “Leer ken die verskillende patrone van jou gemoedstoestand, moenie moeilike doelwitte stel nie, neem deel aan aktiwiteite wat jou beter laat voel en moenie verwag om sommer net beter te voel nie. Dis belangrik om kontak te maak met mense wat depressie verstaan en weet wat die herstelproses behels.”

& Mense wat aan depressie en angstigheid ly, kan Pharma Dynamics se tolvrye hulplyn by 0800-205-026 bel. Dit word beman deur opgeleide raadgewers van die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag) en is sewe dae per week van 08:00 tot 20:00 beskikbaar.

BRON: Pharma Dynamics