Prof. Michael Sharpe, ’n psigiater van Oxford, glo die herstel van pasiënte wat aan dié siekte ly, word verhinder wanneer hulle vrees dat oefening en liggaamlike aktiwiteite die siekte sal vererger. Hy meen hul vrese maak dat hulle hulself nie dryf nie, maar deelname aan kognitiewe gedragsterapie kan hulle help om hierdie bekommernisse te oorkom.

“Hulle verval in ’n patroon waar hulle ál minder doen en hulle ál meer bekommer omdat hulle nie meer doen nie,” het hy verduidelik en benadruk dat ME ’n “werklike siekte” is, met ernstige gevolge. “As jy binne jou beperkings lewe, lei dit tot ’n selfvervullende profesie. ”

Michael en sy span het 641 pasiënte bestudeer en hulle het bevind by die behandeling van die siekte, hou kognitiewe gedragsterapie meer voordele in as die gewone mediese keuses.

Hulle het bevind dat die terapie oor ’n tydperk van 12 maande beter resultate getoon het as byvoorbeeld slaappille en pynverligtingsmedikasie.

Die navorsers sê oefening is ook voordelig. Die bevindings is in die vaktydskrif Lancet gepubliseer.

CMS-simptome sluit uiterste moegheid, geestelike traagheid wat jare kan aanhou, en griepagtige siektes in. Hoewel dit nie duidelik is wat CMS veroorsaak nie, is daar bewerings dat dit begin weens virus- of bakteriële ontsteking, probleme met die immuniteitstelsel of ’n hormoonwanbalans. Sommige kundiges glo dit is meer ’n gemoedstoestand en dat CMS ’n sielkundige siekte is.

“Die feit dat terapie jou beter laat voel, beteken geensins dat CMS nie ’n werklike siekte is nie,” sê Michael.

© Cover Media