Middeljarige vroue wat elke dag ’n halfuur oefen, verminder hul kans op borskanker met ’n vyfde, volgens nuwe navorsing.

Of jy nou hou van fietsry, swem of dans, oefening het verreikende voordele. Van jou ’n paar kilogram laat verloor tot jou liggaam teen siekte help stry, oefening is die geheim tot ’n gesonde lewe.

Nou het navorsers aan die Universiteit van Oxford bevind vetsugtige vroue se kans om borskanker te ontwikkel, is meer as die helfte groter as vroue wat slank is.

Hulle het 126 000 postmenopousale vroue drie jaar lank dopgehou en aangeteken of hulle die siekte ontwikkel. Die deelnemers moes ook omvattende vraelyste voltooi oor onderwerpe, soos hoe dikwels hulle oefen, hul dieet, gewig en drink- en rookgewoontes.

Die uitslae toon die vroue wat elke week drie uur lank strawwe oefening gedoen het se kans op borskanker was ’n vyfde kleiner as dié wat min of geen oefening gedoen het. Strawwe oefening sluit in gimklasse soos spinfietsry en Zumba, maar nie rustig draf, stap of fietsry nie.

Daar is ook bevind vroue met die hoogste persentasie liggaamsvet se kans om die siekte te ontwikkel, was meer as die helfte groter as dié van die slanker deelnemers.

Een van die navorsers se teorieë is dat strawwe oefening die hoeveelheid estrogeen wat vervaardig word, verder verlaag.

“Wat baie interessant is van die ondersoek, is dat (die vermindering van die risiko vir borskanker) oënskynlik nie net is omdat die aktiefste vroue slanker is nie, wat daarop dui dat oefening dalk meer regstreekse voordele vir vroue van alle groottes inhou,” sê prof. Tim Key, ’n Cancer Research UK-navorser van die kanker-epidemiologie-eenheid aan Oxford.

“Ons weet nog nie presies hoe liggaamlike aktiwiteit die risiko verminder nie . . . maar party klein ondersoeke toon dit kan verband hou met die uitwerking op hormoonvlakke in die liggaam.”

Tim voeg by nog navorsing moet gedoen word om te kyk na die verband tussen vroue se hormoonvlakke en die blykbare voorkoming van kanker.

Die nuwe bevindings kom kort nadat ’n onlangse peiling getoon het driekwart van vroue oefen nie uit vrees dat hulle gekritiseer sal word.

Navorsing deur Sport England het 9,4 miljoen vroue tussen 14 en 40 jaar uitgevra as deel van die veldtog This Girl Can en bevind 7,1 miljoen sou graag meer wou oefen. Van die redes waarom hulle nie geoefen het nie, was vrees vir kritiek op hul voorkoms en vermoë in die gim.

“Uit gesprekke met vroue van alle ouderdomme oral in die land het ons uitgevind hulle word teëgehou deur vrees vir kritiek. Of dit nou is oor hoe hulle lyk, of hulle daarmee goed is, of skuldig voel dat hulle tyd aan hulself bestee,” sê Jennie Price, uitvoerende hoof van Sport England.

“Hoe ’n mens ook al daarna kyk, vroue se vrees vir veroordeling krenk hul selfvertroue.”

© Cover Media