Ons is almal bewus daarvan dat ’n peuselry aan sakke vol skyfies en stawe sjokolade, afgesluk met ’n liter bruiskoeldrank, skade doen aan ons middellyn en ons binnegoed.

Trouens, baie min mense het nog ’n studie nodig om hulle bewus te maak van die gevare van ’n dieet wat baie suiker en vet bevat, maar dit is ongelukkig ’n gebied waar die bekommernis groei, aangesien vetsug wêreldwyd die hoogte inskiet.

Hierdie keer belig die jongste navorsing die skade wat bruisdrankies aan ons binnegoed doen. Diegene wat daagliks suikerryke drinkgoed inkry, se organe word met ’n vetlaag bedek.

Wetenskaplikes van die Amerikaanse Hart-, Long- en Bloedinstituut in Massachusetts het duisend middeljarige deelnemers ses jaar klank waargeneem.

Almal wat aan die proefneming deelgeneem het, is gevra hoe dikwels hulle bruisdrankies drink en toe is daar deur middel van X-strale bepaal hoeveel ingewandsvet hulle het.

Ingewandsvet is skadelike vet wat in die buikholte geberg word en dit beteken dit pak saam om belangrike inwendige organe, soos die lewer, pankreas en derms.

Dit jaag nie net die kilogramme op nie, maar ingewandsvet speel ’n belangrike rol by diabetes, kardiovaskulêre siektes en borskanker.

Die uitslae is in die mediese tydskrif Circulation gepubliseer en die span het bevind dat diegene wat elke dag suikerryke of bruisdrankies ingeneem het, byna ’n liter ekstra ingewandsvet bygekry het oor die ses jaar. Dit is amper ’n derde meer as dié wat glad nie die drankies gedrink het nie.

Dieetdrankies het nie dieselfde resultate opgelewer nie en dit dui daarop dat suiker die oorsaak is van die probleem. Die span meen dat weerstand teen insulien, wat deur die bygevoegde suiker aangewakker word, moontlik die skuld kan kry vir die toename in vet.

“Daar is bewyse wat drankies wat met suiker versoet is, koppel aan kardiovaskulêre siektes en tipe 2-diabetes,” sê dr. Caroline Fox, leier van die nuwe studie.

“Ons boodskap aan verbruikers is dat hulle die huidige dieetkundige riglyne moet volg en oplet hoeveel van die drankies wat hulle drink, met suiker versoet is. Vir beleidmakers: hierdie studie voeg nog ’n stukkie getuienis by die toenemende aantal navorsers wat beweer dat drankies wat deur suiker versoet is, nadelig vir ons gesondheid is.”

In Brittanje is daar sprake van moontlike belasting op suiker en die jongste studie verleen selfs meer steun aan die argument dat suikerryke versnaperings duurder moet word.

© Cover Media

Lees ook:

Raak só vanjaar by jou eie huis fiks

Dié wondermiddel kan jou vanjaar maer maak