Nie ’n dag gaan verby nie of wetenskaplikes maak ’n deurbraak met kankernavorsing – en vandag se mediese nuus is dat ’n eenvoudige bloedtoets die terugkeer van borskanker kan voorspel.

Die goedkoop toets is deur Britse wetenskaplikes, gelei deur dr. Nicholas Turner, by die Royal Marsden-hospitaal ontwikkel en kan aandui of die siekte sal terugkeer as pasiënte dit reeds een keer gehad het.

Die toets kan ook die kanker aandui maande voor ’n knop gevoel kan word of ’n nuwe gewas tydens skandering opduik. Hierdie kennis maak dit dan moontlik om die terugkeer van die kanker te vertraag of te voorkom en hierdeur kan tallose lewens gered word.

Medisyne kan ook by die pasiënte se behoeftes aangepas word as die kanker wel terugkeer.

“Dit is die belofte van ’n bloedtoets soos dié,” het dr. Turner opgemerk.

Bloedmonsters van 55 vroue is ondersoek vir die studie. Almal is vir vroeëstadiumborskanker behandel en wisselende hoeveelhede kanker het in hul liggame agtergebly.

By party was die DNS van die kanker dadelik ná die operasie in hul liggaam teenwoordig, terwyl dit by ander eers ná verloop van tyd ontdek is. By die vroue wat die genetiese materiaal in hul bloed gehad het, was die moontlikheid van ’n insinking 12 keer hoër as by dié wie se toetse negatief was.

Daar word gehoop dat die toets aangepas kan word vir verskeie soorte kanker, soos dié van die prostaat en die longe. Die span hoop dat die toets binne die volgende vyf jaar gebruik sal kan word.

In die VK word kanker elke jaar by 309 500 nuwe gevalle gediagnoseer en sowat 55 000 hiervan is borskanker. Na raming sal een uit elke drie mense die een of ander vorm van kanker in hul leeftyd ontwikkel, maar die nuus van die bloedtoets-kankeropspoorder is ’n tree nader aan die oorwinning van die siekte.

© Cover Media