Met ’n bietjie beplanning kan jy ’n ontspanne, gesonde vakansie hê.

So hanteer ’n mens die algemeenste gesondheidsprobleme sodat jy oor die feestyd op pret kan konsentreer:

Sonbrand

Terwyl dit die beste is om sonbrand geheel en al te vermy, onthou dat selfs net ’n kwartier se blootstelling aan die son jou vel kan laat verbrand.

Die Clicks-apteker Waheed Abdurahman stel voor jy smeer ’n teenontstekingsjel aan of drink ’n antihistamientablet om jeukerigheid en ongemak te verlig. Wanneer die vel begin herstel, smeer ’n ongegeurde bevogtiger aan.

Bewegingsiekte

As jy geneig is om motorsiek te raak, probeer fokus op ’n enkele voorwerp buite die motor. Moenie lees nie, want dit maak die bewegingsiekte erger. Dis die beste om ryk, vetterige kosse en suiwelprodukte voor ’n rit te vermy; hou liewer by eenvoudige kos, soos droë kraakbeskuitjies. “Oorweeg dit om ’n teenvertigotablet ’n uur voor die reis te drink,” sê Waheed.

’n Omgekrapte maag

Was jou hande gereeld en hou ’n hande-ontsmettingsmiddel in jou handsak. Drink bottelwater as jy op ’n onbekende plek vakansie hou en oorweeg ’n kursus probiotika as jy geneig is tot maagprobleme.

Volgens Waheed is daar ’n aantal veilige nievoorskrifprodukte vir volwassenes en kinders. “Vir ernstige gevalle, vra ’n apteker moet teenkramp- en teendiarreemiddels aanbeveel,” sê hy. En onthou om gehidreer te bly en elektroliete in jou gestel terug te kry met mondelingse rehidrasie-oplossings.

Oordaad

Sorg dat jy veselryke kosse soos vrugte, groente en volgrane by jou vakansiefees insluit en beproef ’n kruietee as jy aan spasmas of opgeblasenheid ly. Daar is ook ’n aantal nievoorskrifmiddels wat spesiaal geformuleer is om vertering aan te help. Eet ’n volle maaltyd voor jy drank drink, want ’n vol maag vertraag die opname van alkohol. As jy dit oordoen het, beveel Waheed aan jy ontgif met ’n lewersteunmiddel.

Insekbyte

As jy saans buite gaan wees, dra ligkleurige klere wat jou arms en bene bedek en gebruik ’n muskietweerder in die vorm van ’n stafie of sproei. “As jy kwaai op byte reageer, hou altyd antihistamientablette byderhand. Smeer ook ’n antihistamienroom of strelende middel aan,” sê Waheed.

Veiligheidslysie

’n Noodhulptassie hoef nie ’n duur uitgawe te wees nie. Sorg dat joune die volgende bevat:

  • Medisyne teen bewegingsiekte.
  • Steroïedroom vir sonbrand.
  • Insekweerder.
  • Oogdruppels vir soutwater, sand of ander irritasies.
  • Oordruppels vir ontsteking van swem.
  • Voorskrifmedisyne.
  • Antihistamientablette vir allergiese reaksies.
  • Antihistamientablette vir steke en byte.
  • Parasetamol of aspirien.
  • Kalamynroom vir sonbrand of uitslag.
  • Steriele gaas en brandverband.
  • Kleefverband en pleisters.
  • Antiseptiese room.
  • Haartangetjie.

Noodnommers om byderhand te hou

Ambulans 10177

Polisie 10111

Bron: clicks.co.za