KRY ’N ROETINE

’n Roetine is belangrik. Dit jou sal help om jou tyd doeltreffend te bestuur, sê Elvira Holz, ’n maatskaplike werker van Johannesburg. As jy jou tyd so kan indeel dat jy by al jou verpligtinge kan uitkom, sal jy minder stres en meer gemotiveerd wees.

Verdeel jou werk en verpligtinge volgens prioriteite sodat jy weet hoeveel tyd jy elke dag aan iets moet afstaan. Dit sal verhoed dat jou werk ophoop en jy later in die kwartaal gespanne is omdat jy nie by alles uitkom nie.

Gebruik ’n dagbeplanner en skryf daagliks alles wat jy moet doen daarin neer. Jy kan ook ’n kalender in jou kamer opplak en belangrike datums daarop invul.

Die onthou-funksie op jou selfoon is ook nuttig om jou te herinner om te leer vir toetse en take se spertye.

HANDHAAF ’N BALANS

“As jy jou tyd gun vir ’n blaaskans, sal jy vind jy het meer krag en energie vir skoolwerk, sport en ander verpligtinge,” sê Elvira.

As jou gunsteling-tydverdryf byvoorbeeld branderplankry of ’n episode van jou gunsteling-TV-reeks is, kan jy vir jouself ’n doelwit stel deur te besluit jy mag dit eers doen nadat jy huiswerk gedoen of ’n hoofstuk vir die eksamen voorberei het. Die vooruitsig van ’n lekker aktiwiteit sal jou aanspoor om jou verpligtinge na te kom.

Gun jouself dan die rustyd. Solank jy die aftyd geniet nadat jou ander werk voltooi is en jy dit nie so gereeld doen dat jy jou verpligtinge afskeep nie, hoef jy nie skuldig te voel daaroor nie.

OEFEN

Oefening is ’n uitstekende teenvoeter vir stres en sal jou help om van negatiewe energie ontslae te raak, sê Jonathan Quirk, ’n fiksheidsinstrukteur van Johannesburg.

As jy oefen, sal jy meer energie hê en gelukkiger voel omdat oefening endorfiene en ander hormone vrystel wat stres bekamp.

Spansport is pret en voel nie na werk nie omdat jy in ’n groep deelneem. Kry jou vriende bymekaar vir ’n wedstryd raakrugby, of sluit aan by jou skool se netbalspan.

Selfs al is jy nie sportief nie, kan jy steeds ’n ent gaan stap of fietsry. Laat staan die gimnasium met sy vervelige trapmeule en gaan stap of ry eerder in ’n park of langs die see.

STEL DOELWITTE

Dit is maklik om gefokus te bly as jy weet dit gaan die moeite werd wees. Herinner jouself dus daagliks dat die werk wat jy nou insit, later op ’n beloning kan uitloop.

Plak vir jouself bemoedigende briefies of foto’s van jou doelwitte op waar jy dit kan sien. As jy byvoorbeeld baie graag by ’n sekere universiteit aanvaar wil word, kan jy ’n foto van die universiteit bo jou lessenaar opplak. Wanneer jou motivering min is, sal die herinnering aan jou einddoel jou weer op die regte spoor sit.

Deel jou groot doelwitte in kleineres op. Dit is moeilik om gemotiveerd te wees as jy 10 hoofstukke moet leer of 10 km aaneen moet hardloop; dis veel makliker om dit een op ’n slag aan te durf. Stel dus klein en realistiese doelwitte, soos dat jy elke week een hoofstuk wiskunde moet baasraak. Jy sal dit makliker afhandel en meer gemotiveerd wees as wanneer jy onrealistiese take aanpak en misluk.

WYSE WOORDE OOR SUKSES

Die eerste stap is om te besluit jy kan dit doen. – Will Smith

Dit maak nie saak wat jy aanpak nie, maak dit ’n belewenis en maak dit pret. – Minka Kelly

’n Droom is net ’n droom tot jy besluit om dit waar te maak. – Harry Styles

Ek is mededingend, maar nie tot op die punt waar ek enigiets sal doen om te wen nie. Ek sal nie op iemand trap om bo uit te kom nie. – Jordin Sparks

-       Mieke Vlok

Ekstra bronne: motivationgrid.com, brainyquote.com, goodsreads.com