As jy aan hoë bloeddruk ly, kan dit doeltreffender wees om suiker uit te skakel, pleks van sout.

Jare lank is mense gemaan om minder sout in te neem as hulle hul risiko vir kwale soos hartsiekte en beroerte wou verminder. Maar nou beweer Amerikaanse navorsers mense moet liewer let op hoeveel soetgoed hulle eet.

Die uitslae van die ondersoek, onder leiding van dr. James DiNicolantonio, is in die American Journal of Cardiology gepubliseer.

“Suiker, en nie sout nie, is dalk die eintlike oorsaak van hoë bloeddruk.

“Die idee word ondersteun deur meta-ontledings van lukrake kontrole-proefnemings (grootskaalse ondersoeke), wat toon suiker het ’n sterker verband met bloeddruk by mense as natrium,” lui dit.

“Miskien moet mense liewer aangemoedig word om suiker te beperk, en nie sout nie, om hul bloeddruk deur hul dieet te beheer.”

Die navorsers van die Amerikaanse deelstate New York en Kansas het ook gewys op ’n onlangse ondersoek van 8 670 Franse volwassenes wat geen verband tussen sout-inname en hoë bloeddruk getoon het nie.

’n Groot ophef word deesdae van suiker en die gevare daarvan gemaak. Party kenners meen selfs mense moet dit heeltemal vermy. Baie soet drankies, soos vrugtesap en gaskoeldrank, word veral uitgewys as risikofaktore vir tipe 2-diabetes en vetsug.

Volgens die Amerikaanse ondersoek kan hoë suikervlakke die hipotalamus van die brein beïnvloed en maak dat jou hartklop versnel en bloeddruk styg. Hoë suikervlakke kan ook die liggaam meer insulien laat vervaardig en sodoende die hartklop laat versnel.

James weerspreek selfs diegene wat glo ’n verlaagde sout-inname sal vetsug en hartsiektes help hokslaan.

“Ons beweer die teenoorgestelde; ’n vermindering insout-inname kan tot ’n verhoogde inname van verwerkte kosse (en bygevoegde suikers) lei, en daardeur die risiko vir diabetes, vetsug en kardiovaskulêre siekte verhoog,” sê hy.

’n Goeie riglyn is om jou daaglikse suikerinname te verminder tot vyf of ses teelepels as jy ’n vrou is en sewe tot agt as jy ’n man is, en te let op die suikerinhoud van verwerkte kosse en drankies.

© Cover Media