’n Nuwe Amerikaanse ondersoek toon mans wat op 45 bles is, het ’n groter kans om ’n aggressiewe vorm van prostaatkanker te kry.

Daar is bevind mans wie se hare aan die voorkant van hul kop uitgeval het en ook op hul kroon yl geword het, het ’n allemintige 40 persent groter kans om ’n gewas te ontwikkel as mans met ’n vol kop hare.

Altesaam 39 070 mans tussen 55 en 74 jaar is dopgehou en hulle is gevra om aan te dui wat hul haarverliespatroon op 45 was deur ’n prenthulpmiddel te gebruik tydens ’n siftingstoets vir prostaat-, long-, kolorektale en eierstokkanker.

’n Opvolgondersoek het getoon 1 138 prostaatlyers is gediagnoseer. Altesaam 51 persent van die gevalle was aggressief, en 72 was die gemiddelde ouderdom waarop die siekte by die mans gediagnoseer is. Die ondersoek is in die Journal of Clinical Oncology gepubliseer.

Wanneer prostaatkanker aggressief is, beteken dit die knop vergroot vinniger as gemiddelde gewasse, en die navorsers sê die oorsaak van blesheid en die vinnige groei sluit ’n hoër vlak van die geslagshormoon androgeen in.

Daar was geen ander vername verband tussen ander soorte haarverlies en die siekte nie. Maar die jongste navorsing dui wel daarop dat daar ’n biologiese verband tussen blesheid en kanker kan wees. En tesame met ander ondersoeke kan dit mans help waarsku of hulle in gevaar is.

“Ons ondersoek het net by mans met ’n baie spesifieke patroon van haarverlies ’n verhoogde risiko vir aggressiewe prostaatkanker getoon,” sê die hoofskrywer, Michael B. Cook, van die Nasionale Kankerinstituut van Amerika.

“Dit is blesheid aan die voorkant en matige haarverdunning op die kroon van die kop op die ouderdom van 45.

“Maar ons het geen verhoogde risiko vir enige vorm van prostaatkanker gesien by mans met ander haarverliespatrone nie.

“Terwyl ons data ’n sterk moontlikheid vir ’n verband tussen die ontwikkeling van blesheid en aggressiewe prostaatkanker toon, is dit te vroeg om die bevindings op pasiëntesorg toe te pas.”

© Cover Media