Laura Thomas, ’n opgeleide gesondheid- en voedingskundige, het van haar wenke met Cover Media gedeel. Die kersie op die koek is, sy is ’n kenner op die gebied van emosionele eetgewoontes en suikerverslawing.

Laura sê “groen blaargroente word nie voldoende by mense se diëte ingesluit nie, want mense bly maklik dae lank daarsonder. Dié groente bevat voedingstowwe wat die impak van suiker teenwerk.

“Mense is ook heeltemal te skrikkerig vir vette en eet daarom nie genoeg vette om hulle versadig te laat voel nie. Kossoorte soos olierige vis, neute, avokado’s en botter van goeie gehalte (van koeie wat gras gevreet het) bevat goeie vette.”

’n Ander probleem is, van die kosse wat mense as gesond beskou, bevat baie suiker. En dis nie net gaskoeldrank en sjokoladestafies wat ter sprake is nie. “’n Mens eet byvoorbeeld baie maklik te veel droëvrugte. ’n Klein boksie rosyntjies is gelykstaande aan ’n groot tros druiwe,” verduidelik Laura.

“Jy kan selfs te veel gesonde verwerkte kosse inkry, byvoorbeeld groot hoeveelhede gesonde joghurt, granolastafies, graankosstafies, ensovoorts.”

Superkosse kan ook probleme oplewer. Nuwe wonderstowwe duik gedurig op en dit voel of ’n mens aangeraai word om hulle in te prop. As jy van die kenners kan glo, wil dit lyk of kool verlede jaar die antwoord op alle gesondheidsprobleme was.

Laura stem saam van hierdie kossoorte is goed vir jou en sal jou liggaam gesond hou, maar waarsku ’n mens sal meer baat vind as jy matigheid voor oë hou wat die bederfies betref en eerder volhou met ’n dieet wat ’n verskeidenheid van goeie kossoorte insluit.

“Ek glo nie een soort kos is so fantasties dat dit alle ander sondes regmaak nie.” Jy kan dus nie ’n hele bak roomys verorber en jouself dan op die skouer klop omdat jy dit met bloubessies afgerond het nie.

© Cover Media