.

’n Dik middel, ook bekend as middelvetsug, dui glo op ’n groter kans op voortydig dood te gaan, selfs al is die mens se liggaamsmassa-indeks (LMI) normaal. By dié wat oorgewig is maar ’n normale verspreiding van vet het, is daar geen verandering in risikovlakke is nie.
"Daar is ’n verband tussen middelvetsug en voortydige sterfte"

Daar is reeds bevind mense met middelvetsug het minder spiermassa, en dit word met ’n verhoging in mortaliteit verbind. In die nuwe studie word vir die eerste keer gekyk na die uitwerking wat hierdie soort “noodwiel” het op skraal mense met ’n normale LMI, vergeleke met dié wat as oorgewig of vetsugtig geklassifiseer word, veral wat die verband met sterfte betref.

Die bevinding kom nadat 15 184 volwassenes tussen 18 en 90 jaar oud deelgeneem het aan die derde nasionale gesondheid- en voedingsondersoekoorsig. Sterfterekords is vergelyk met die wyse waarop mense se liggaamsvet versprei is, en daar is vasgestel daar is ’n verband tussen middelvetsug en voortydige sterfte.

Dr. Francisco Lopez-Jimenez, ’n kardioloog by die Mayo-kliniek in Minnesota, het verduidelik: “Ons bevindings dui daarop dat mense met ’n normale gewig maar met vet om die middel hul leefstyl moet verander en ander voorkomende strategieë moet aanwend.

"Toekomstige studies behoort te fokus op faktore wat lei tot die ontwikkeling van middelvetsug by mense met ’n normale gewig en ’n beter begrip te skep van die uitwerking daarvan op hul gesondheid.”

Die studie is in die tydskrif Annals of Internal Medicine gepubliseer, en Francisco het bygevoeg die beste aanduiding van iemand se huidige gesondheidstoestand is om die mens se LMI en persentasie liggaamsvet met mekaar in verband te bring.

Francisco het ook gewaarsku verskeie studies stuur teenstellende boodskappe uit. Een hiervan is ’n ontleding wat daarop dui dat ’n LMI wat toon iemand is vetsugtig, verbind kan word met ’n kleiner kans op voortydige dood.

Daar heers selfs onder dokters verwarring: party glo faktore soos middel-tot-heup-verhouding (wat gebruik kan word om middelvetsug te meet) kan ’n aanduiding wees van wanneer die mens gaan sterf, terwyl ander skepties is.

© Cover Media