Akupunktuur is deel van tradisionele Chinese medisyne en die doel daarvan is om die verstand en liggaam te sinchroniseer.

Met ’n geskiedenis van meer as 2 500 jaar is dit geen wonder nie dat die metode wêreldwyd groot aanhang geniet. Akupunktuur kan help met alles van kopseer tot rugpyn. Maar voor jy jou daarin begewe, kom eers op hoogte van hoe jy vir ’n sessie moet beplan.

Wanneer

Dis belangrik om jou afspraak wys te skeduleer. Moet dit nie reël vir voor of ná iets stresvols nie. Natuurlik beteken dit nie jy moet die dag afvat nie (jammer), maar probeer om nie net voor of ná die afspraak te gaan gim nie. Jy wil nie gespanne wees voor of gedurende die sessie nie. Sit dus tyd daarvoor opsy.

Eet

Dink aan hierdie reël soos die een vir swem – moenie kort voor die tyd eet nie, maar moet ook nie op ’n leë maag gaan nie. Eet sowat twee uur voor die tyd. Vermy swaar en sterk kosse wat jou laat opblaas, maar neem iets in, anders kan jy lighoofdig begin voel.

Vermy koffie en drank

Dit kry jou dalk soggens uit die bed, maar ’n koppie koffie is nie iets waarna jy voor akupunktuur moet gryp nie. As jy in die oggend ’n afspraak het en ’n latte nodig het om aan die gang te kom, kan jou liggaam dit waarskynlik hanteer, want dit is deel van jou roetine. Maar as dit vir later gereël is, moet jy kafeïen vermy. Dit kan dit vir jou akupunkturis moeilik maak om akkurate lesings van jou pols en tong te kry, want dit is ’n stimulant. Dieselfde geld alkohol. Terwyl akupunktuur jou duidelik help sien, beïnvloed alkohol jou sig en reaksie, wat teenproduktief is.

Neem aantekeninge saam

Akupunktuur gaan oor jou algehele gesondheid. Dit beteken dit is goed om vir jou praktisyn ’n mediese uiteensetting te gee. Maak ’n lys van alles van die medisyne wat jy drink (voorbehoed inkluis) tot ongelukke wat jy al gehad het en toestande wat in jou familie voorkom. Dit sal die akupunkturis help om ’n duidelike prentjie van jou en jou behoeftes te skep.

Trek gemaklik aan

Dit sal die akupunkturis help om die naalde waar nodig te gebruik. Moue en broekspype wat maklik opgerol kan word, sal alles gladder laat verloop.

Ontspan 

Akupunktuur sal net help as jy ontspanne is. Sorg dus dat jy genoeg tyd laat om by jou afspraak te kom en beplan vooruit vir verkeer en ander faktore wat jou kan vertraag. In ’n wêreld waar ons aan ons fone verslaaf is, is die versoeking groot om dit tydens die sessie op hard of vibreer te los. Moet dit nie doen nie. Afleidings sal die afspraak ’n vermorsing van tyd maak en dit is irriterend vir al die betrokkenes.

© Cover Media