Dit gaan nie net oor wat jy eet nie, sê die kenners. Dit gaan ook oor stres.

Dr. Marilyn Glenville, ’n voedingskundige, wys daarop dat stres ’n groot impak op jou middellyf uitoefen aangesien hormone wat die opgaar van vet aanhelp, in tye van angs vrygestel word.

Vet is nie net onooglik nie, dit is ook skadelik. Soos dit rondom jou organe versamel, kan daar gesondheidsprobleme ontstaan wat moeiliker is om te oorkom as om gewig af te skud.

“Daar is ’n verskeidenheid van stresvolle situasies in ons hedendaagse leefstyl, soos verkeersknope, treine wat laat is, afsprake wat misgeloop word, bekommernis oor finansies en sommer net die daaglikse lewe wat in die hoogste versnelling is,” het Marilyn aan MailOnline verduidelik.

“Adrenalien word feitlik heeltyd vrygestel as ons onder druk is en die uitwerking daarvan kan kwaai wees.”

Sy merk op indien dit bekend klink en daar is nog geen vetrolletjies aan jou arms en bene nie, jy versigtig moet wees. Die vet om jou middellyf kan tot gesondheidsprobleme lei soos hartsiektes, beroerte, hoë bloeddruk en kanker.

Sy het wenke oor hoe jy die risiko’s kan verlaag – dit begin by ’n meer ontspanne leefstyl. ’n Mens word daagliks aan soveel stres blootgestel. As jy daarmee in aanraking kom, word die streshormoon kortisol saam met adrenalien vrygestel. Dié twee help jou om die situasie die hoof te bied, maar dit help jou nie om die gewig weg te hou nie. Hoe meer stres daar is, hoe meer hormone wat die opgaar van vet aanhelp, sal vrygestel word. Probeer dus ’n manier vind om te ontspan – of jy nou joga doen of ’n boek lees.

Marilyn benadruk die feit dat jy eerder net verstandig moet wees by die keuse van die kos wat jy eet, eerder as om ’n dieet te volg. Die uitskakel van snoephappies en die tel van kilojoules kan tot meer stres lei, veral in tye wanneer jy voel jy het jouself in die steek gelaat.

Sy raai jou ook aan om elke drie uur te eet ten einde jou suiker- en energievlakke stabiel te hou. Volgens haar hou die raad dat jy nie koolhidrate ná 18:00 moet eet nie, ook stryk. As jy versadig en tevrede voel, sal jy minder geneig wees tot angs.

Ten laaste moet jy uitsoekerig wees ten opsigte van die soort vette wat jy eet. Kossoorte soos olieryke vis, neute en sade bevat essensiële vette. Dit sal jou help om jou gewig in toom te hou en sal jou maag nie soos ’n ballon opblaas nie.

© Cover Media