? Dis goed om jou besittings op ’n gereelde basis skoon te maak, maar hier is ’n paar onverwagte items wat ook ’n goeie skoonmaaksessie kort.

Kussings. Daar is in ’n studie bevind dit kan allerhande soorte bakterieë bevat wat asma of siektes kan veroorsaak en jou siek kan laat voel. Daar kruip ook miete, skimmel en dooie velletjies in die opstopsels weg en die sintetiese soort versamel baie meer kieme as ander kussings, aangesien die vesels nie so styf geweef is nie en gevolglik meer inlaat.

Kyk eenvoudig na die was-aanwysings op die etiket omdat dit afhang van die soort kussing wat jy het. Dit sal selfs droogskoonmakers toe moet gaan, maar dink aan die siektes wat jy so vermy.

Jou tandeborselhouer is nog ’n broeiplek vir kieme. Ja, die borsels is dalk mooi skoon nadat jy geborsel het, maar as jy dit in ’n vuil houer terugsit, is dit net so goed jy maak dit glad nie skoon nie. Bakterieë soos stafilokokkus, wat infeksies soos pitswere kan veroorsaak, is verbind met vuil tandeborselhouers en wetenskaplikes het bewys mense bêre dikwels hul tandeborsel op die vuilste plek in hul badkamer.

Die oplossing is heel eenvoudig: Spoel dit uit en was dit deeglik met opwasmiddel of sit dit in die skottelgoedwasser. Laat dit deeglik droog word en herhaal dié proses twee keer per week.

’n Minder voor die hand liggende item is jou sleutels. Dit word by sleutelgate en jou sak ingedruk; dit is waarskynlik oortrek van kieme en jy dink waarskynlik nie daaraan om dit (of jou hande) te was nadat jy daaraan geraak het nie. Vee dit net af en toe met ’n klam lappie af.

Jou skoenveters is nog iets wat skoongehou moet word. Dit kan op ’n reënerige dag met allerhande soort kieme en vullis bedek word, veral as jy in modder trap, en wanneer jy jou veters vasmaak, kan jy allerhande soort kieme optel.

Maak dit los en sit dit in warm seepwater om dit goed skoon te kry voor jy dit met die res van jou klere was. Maak net seker dit haak nie vas aan iets nie, anders kan dit dalk in die binnekant van die masjien vashaak – jy soek tog nie vuil veters en ’n stukkende wasmasjien nie!

© Cover Media