Ons weet almal drink en bestuur is onwettig en dit is ’n verskriklike gedagte – maar is dit net so erg as jy ’n latte pleks van ’n bier drink?

’n Motoris in die VK is vroeër vanjaar met £145 (meer as R3 000) beboet omdat sy ’n piesang geëet het terwyl sy bestuur en so “die lewe van ander padgebruikers in gevaar gestel het”.

Ook die Federale Verkeersraad in Doebai het verlede maand voorgestel dat eet en drink terwyl jy bestuur (sowel as ander misdrywe, soos om grimering aan te sit, ’n selfie te neem, te lees, televisie te kyk in motors en te rook) as verkeersoortredings beskou kan word en ’n boete van Dh1 000 (R4 316) sal daarvoor opgelê word.

Bianca de Beer, woordvoerder van Dialdirect, sê: “Hoewel die meeste van ons bestuur onder die invloed van alkohol kan vermy of om ons selfoonskerms na te gaan tot ons ons bestemming bereik het, is daar een gevaarlike gewoonte waaraan baie van ons skuldig is: eet en drink agter die stuurwiel.

via GIPHY

“Dit word dikwels nie as aandagafleiding raakgesien nie, maar ’n happie kan jou aandag makliker aflei as ’n gesprek met die passasier langs jou.”

In ’n studie deur die Brunel-Universiteit in Londen is bevind eet en drink terwyl jy bestuur verdubbel die moontlikheid dat jy in ’n motorongeluk betrokke kan raak.

Daarbenewens word 65 persent van rakelingse ongelukke veroorsaak deur bestuurders wie se aandag afgetrek word deur eet en drink terwyl hulle bestuur.

Hoewel daar streng maatreëls bestaan om bestuurders te verhoed om onder die invloed te bestuur of ’n selfoonboodskap aan te stuur terwyl hulle by ’n stopteken wag, bestaan daar geen amptelike reëls in Suid-Afrika om jou te keer om ’n hele burger en skyfies te verslind op pad huis toe van ’n deurry-eetplek af nie.

“As verantwoordelike padgebruiker reken ek dieselfde klem behoort gelê te word op waar en wanneer jy eet, asook op watjy eet. Ek glo wanneer ons bestuur, behoort ons onsself te dissiplineer om ons foon af te skakel, ons toebroodjies neer te sit en slegs op die pad te konsentreer.

“Wanneer jy met vriende oor die foon gesels of ’n vinnige happie gryp, loop jy die risiko om in ’n ongeluk betrokke te raak of iemand raak te ry. Ons weet tyd is kosbaar, maar ons moet ook ons lewens spaar,” beklemtoon Bianca.

Die grootste maaltydsondaars is enigiets wat kan mors, smeer of stort terwyl jy bestuur – veral iets wat gewoonlik warm is.

Hierdie morsery is nie net sleg vir jou bekleedsel nie, maar as jy iets stort, sal dit onvermydelik jou aandag op die een of ander manier aftrek en veroorsaak dat jy wegkyk van die pad af.

In ’n studie wat op voedselverwante versekeringseise by insurance.com gegrond is, is die volgende 10 voedselsoorte geïdentifiseer as die slegstes wat agter die stuurwiel geëet of gedrink kan word.

  1. Koffie of tee
  2. Sop
  3. Wraps (of enige soort souserige toebroodjie)
  4. Maalvleis
  5. Hamburgers
  6. Braaivleis
  7. Braaihoender
  8. Gevulde oliebolle
  9. Koeldranke
  10. Sjokolade

“Ons het so gewoond geraak aan verskillende dinge gelyktydig doen of meer dinge in minder tyd doen dat die meeste van ons nie twee keer dink voor ons aan koffie teug of middagete eet terwyl ons na ons volgende vergadering ry nie.

“By Dialdirect glo ons beslis aan ’n gerieflike lewenstyl, maar nooit as dit inbreuk maak op padveiligheid nie,” sluit Bianca af.

Ook op Huisgenoot.com

Son in jou oë: groter gevaar as wat motoriste dalk dink

Padwoede-voorval: ‘Ek het nog gedink ons gaan net woorde wissel, toe klap sy my’

Is jy ‘n Willie Weet-alles of Meneer die onderwyser agter die stuur?